BBRU-liga: Naka stel peil teen Goue Bekerhouer

Die Naka Bulle het Saterdag die peil vir vanjaar se Carltonreeks gestel deurdat die internasionale Goue Beker-kampioen hom eers in die doodsnikke van hul kragmeting in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se topreeks kon klop.

ʼn Strafskop pas voor die eindfluitjie het Rustenburg Impala in staat gestel om die Mootspan met 20-18 te klop.

Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê dit was ʼn klipharde wedstryd wat tot die einde wipplank gery het.

“Dit was amper ʼn herhaling van wat ʼn paar weke gelede in Rustenburg gebeur het, toe Naka op sý beurt in die doodsnikke die wenpunte in die Assupolstryd daar behaal het.”

Hy sê Naka het Saterdag goed afgeskop, en het rustyd met 10-5 voorgeloop.

“Impala het egter goed geskrum, en goeie lynstaanbesit geniet.

“Hoede af vir die verloorspan, wat tot die einde hul lywe op die spel geplaas, en verwoed verdedig het.

“Die verwagting is dat al die wedstryde in die Carltonliga vanjaar besonder hard en genadeloos sal wees.”

Dylan du Buisson (losskakel) en Gaybrin Smit (heelagter) het Naka se drieë gedruk. Du Buisson het 13 punte behaal deur ook met ʼn doelskop en twee strafdoele te slaag.

Naka se tweede span het met 29-31 die onderspit teen Impala gedelf, en die derde het Impala met 36-19 geklop. Die o.21-span het ʼn wegholoorwinning van 82-0 (12 drieë) oor Impala behaal, en die o.20-span het met 38-8 geseëvier.

Ander uitslae –

Carlton-A-liga

Eerste spanne

Centurion 34, Dragons 19; Tukkies 45, Quins-Bobbies-rugby 19.

Tweede spanne

Centurion 15, Dragons 15; Fezelas (UP) 35, QBR 32.

Derde spanne

Centurion 20, Dragons 7; Pumas (UP) 35, QBR 14.

O.21-spanne

Dragons 17, Centurion 7; Tuks-Jongspan 61, QBR 3.

O.20-spanne

Centurion 43, Dragons 10; Tukkies 24, QBR 6.

Carlton-B-liga

♦ Tuine se Grizzlies het die naweek drie uit sy vier wedstryde in die Carlton-B-liga teen die verdedigende kampioen, die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), gewen.

Sy eerste span het 13-3 gewen; TUT se tweede het 33-22 gewen; Grizzlies se derde het 36-0 gewen; en sy o.20-span 14-3.

Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, sê die Grizzlies se voorspelers het die studente se eerste span heeltemal oordonder.

Hy sê Thabo Thomas, TUT II se afrigter en ʼn gewese Blou Bul- en Vrystaatse skrumskakel, het rustyd die sweep geklap, en die studente aangespoor om elke moontlike geleentheid met die bal te hardloop. Dit het die deurslag gegee om ʼn rustydagterstand in ʼn sege te omskep.

Ander uitslae –

Korrektiewe Dienste 78, Brits 17; Baviaanspoort 41, Silver Valke 10; Hartbeespoort 39, Eersterust 28.

Carlton-C-liga

♦ In die Carlton-C-liga het Noordelikes van Pretoria met 31-24 teen Transwerkparke gewen. Sy tweede span het met 21-10 gewen.

Dawid Labuschagne, Noordelikes se voorsitter, laat weet Johan van Schalkwyk (flank), Justen Swart (skrumskakel), Etienne Swanepoel (heelagter), Pierre Wagenaar (binnesenter) en Noel “Beast” Kabongo (vaskopstut) het die eerste span se drieë gedruk.

Jacques Storm (losskakel), wat sy buiging in die span gemaak het, het twee verdoel, en Swanepoel twee.

Labuschagne sê die oorwinning was ʼn goeie spanpoging.

In die tweede span het Sarel de Beer en Christiaan Boshoff uitgeblink.

Renier Vorster (flank) het twee drieë gedruk en Johan van Jaarsveld (heelagter) een. Daniel Ball (losskakel) het al drie verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.