BBRU-liga: ‘Nelson’ bring geluk vir TUT

In kriekettaal noem hulle dit ʼn “Nelson” en bring dit glo ongeluk, maar vir die Tswhane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het dit louter genot ingehou.

Sy eerste span het Cullinan in hul jongste kragmeting in die Blou Bulle-rugbyunie se Carlton-B-liga poegaai gespeel en met 111-0 oorrompel.

Die verdedigende kampioen is boaan die punteleer van sy afdeling, maar Hartbeespoort, ʼn nuweling in dié reeks, gee hom opdraand.

TUT II het met 38-0 teen Cullinan III gewen; Cullinan III het TUT III met 61-0 oorskadu; en Tukkies-o.21 het TUT-o.21 met 81-0 verniel.

Neels van Heerden, TUT se voorsitter, spreek hom soos volg oor die uitslae uit:

“Klubrugby is nie oral ewe gesond nie, en TUT het gemengde welslae behaal.

“Myns insiens is Cullinan III ʼn beter span as Cullinan I.

“Tuks kan na alle waarskynlikheid minstens drie o.20-spanne in die veld stoot, wat ewe mededingend kan wees.”

17 punte

Shawn Jaards het 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe vir die eerste span behaal, en Lewies van Deventer 13 met ʼn drie en vier doelskoppe.

Lisa Banzi het ʼn driekuns bygedra, en William Thomson, Zavien Klaasen en Bongani Zwane het elk twee keer gaan druk.

Claude Johannes, Calvin Maduna, Mpho Kganakga, Chestwin Gaffley, Thabang Kibe en Jan van der Merwe het die res van die studente se 17 drieë gaan druk.

Naas Jaards en Van Deventer het Litha Vumisa (twee) en Viagian Groenewald doelskoppe deur die pale geloods.

Vir TUT se tweede span het Sandili Sibanda (twee keer), Mfundo Gumede (twee keer), Cascious Dube en Sandiso Kolisi agter die doellyn gaan kuier.

Thabang Kibe het vier van die drieë verdoel.

Opgesomde punteleer –

Carlton-B-liga

Eerste spanne

TUT 23, Hartbeespoort 22, Korrektiewe Dienste 19, Tuine 19, Eersterust 17, Baviaanspoort 15, Brits 3, Silver Valke 1, Cullinan 0.

Tweede spanne

KD 25, TUT 25, Tuine 20, Harties 17, Baviaanspoort 17, Eersterust 10, Cullinan 5, Brits 3, Silver Valke 1.

Derde spanne

Cullinan 19, Harties 18, Tuine 16, KD 15, Baviaanspoort 10, TUT 8, Brits 6, Silver Valke 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.