BBRU-liga: Polisie-bewondering vir Dragons

pretoriapolisie`n Mens kan  nie anders as om die Dragons te bewonder vir sy prestasie oor Polisie die afgelope naweek nie.

Só sê Johann Kluyts, `n woordvoerder van Pretoria Polisie, nadat die nuweling in die Carlton A-liga, Dragons, Donderdag al vyf sy wedstryde teen Polisie gewen het.

“Geen span is onoorwinlik nie en dis duidelik dat hierdie klub hard daaraan werk om sukses te behaal. Dit kan ook sy moraal vir die res van die seisoen `n yslike hupstoot gee.

“Polisie kan en moet sy wonde lek, maar ek glo die Bobbies sal nie gaan lê nie.

“Die ou waarheid is dat jy nooit jou teenstander mag onderskat nie, en dat `n mens net so goed as jou jongste wedstryd is.”

Kluyts sê dis goed om die Carlton-punteleer so “deurmekaar” te sien vergeleke by ander jare.

“Dit sal almal op hul tone hou.”

♦ André Booyse, die voorsitter van Bronkhorstspruit, laat weet die klub het Stanza Bopape Vrydag 82-0 in die Carltonliga C geklop.

Bronkies se tweede span het 45-14 gewen.

harlequinsGoue Oues-rugby

♦ Die Harlequins Madalas (spelers oor 32 wat nie meer Carltonrugby speel nie) het gister aan die jaarlikse Goue Ouerugbyfees van Johannesburg Polisie deelgeneem. Daar was 14 spanne by die toernooi.

Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, sê die Madalas het in `n skouspelagte wedstryd met min hanteerfoute met vyf drieë teen twee (`n drie tel een punt en daar word nie pale toe geskop nie) oor die Alberton Madalas geseëvier.

Hy sê die Alberton Madalas is `n sterk span met minstens tien Leeus- Goue Oues in die span.

“Ons oudste speler op die veld was die legendariese Quin Gerrie Germishuys. Op 55 het hy al in oor `n 1 000 wedstryde gespeel waarvan nagenoeg 150 in die buiteland was.

“Daar is tans agt Black Quins in die span, naamlik Frik Pienaar, Martin White, Rik Els, die tweeling Christo en James Greyling, Everard Bye, Hermann Dannhauser en die masjien Carel Viljoen.

“Die Alberton Madalas het ook `n Black Quin Anton Vlok in hul span gehad. `n Black Quin is `n speler wat in die begin-vyftiental van `n Carltonwedstryd uitgedraf het.”

Eybers sê Quins se Madalas bied `n tuiste vir spelers wat nog lus het vir die wedstryde en in hul eie ouderdomsgroepe wil speel, en is `n lid van die SA Nasionale Goue Ouesvereniging (Sangora).

Martin White is tans die voorsitter van Bulle se Goue Oues-rugbyvereniging (Bora) wat hoop om by die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) te affilieer.

Oumanrugby word streng volgens die BokSmart-reëls bedryf.

Eybers sê die Nasionale Goue Oue-rugbyfees word vanjaar die 38ste keer aangebied en vind van 21 tot 24 September in Welkom plaas.

Spelers of spanne wat belangstel, kan met White by [email protected] skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.