BBRU-liga: Polisie veg terug; Naka val én klim

Pretoria Polisie teen Dragons. (Foto: Johanna de Vos)

Pretoria Polisie teen Dragons. (Foto: Johanna de Vos)

Goeie nuus vir rugby in die algemeen is dat Pretoria Polisie, die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se verteenwoordiger in die internasionale reeks om die Goue Beker, aanduidings van `n sterk terugvegpoging in die Carltonliga A toon.

Hy het Saterdag die bordjies behoorlik verhang toe hy Dragons van 24-8 geklop het nadat die span van Pretoria-Noord in die eerste ronde 14-12 gewen het.

Naka Bulle het ondanks `n nederlaag van 26-30 teen Rustenburg Impala, en danksy twee bonuspunte en `n beter batige puntesaldo, weer die voortou in die liga geneem deurdat die voorloper, Tukkies, nie in aksie was nie.

In die ander wedstryd het Centurion 31-21 teen Harlequins gewen om weer die tweede plek in te neem.

Naka en Centurion het nou elk 32 ligapunte, die Tukkies en Impala elk 31, Dragons 27, Polisie 23 en Quins 6.

naka bulleBuks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê hoewel Impala rustyd 22-19 voorgeloop het, het die wedstryd heeltyd wipplank gery, en het Naka in die tweede helfte `n tyd lank voorgeloop.

“Naka was teen die einde verwoed op die aanval, toe die skeidsregter sonder rede of verduideliking die wedstryd ná ongeveer 34 minute in die tweede helfte beëindig het.”

Fanie Rasarorka (twee), Anton Beswick en Robin Goliath het vir Naka agter die doellyn gaan kuier, en Jean Grobler het drie daarvan verdoel.

Naka se laaste wedstryd is `n uiters belangrike stryd Saterdag op sy tuisveld teen `n Polisiespan wat met sy rug teen die muur staan. Die vorige wedstryd tussen die twee het 15-15 gelykop geëindig.

Ben Eybers, Harlequins se voorsitter, sê sy span het moedig teen Centurion probeer.

“Soos so dikwels vanjaar het hulle swak begin; nie pale toe geskop nie, maar die kantlyn opgesoek, en nie die telbord aan die rol gehou nie.

“In `n stadium was Quins 3-19 agter voordat hulle beter begin speel het. Dit toon dat die span in staat is om te wen en gewis aanstaande jaar met mening in die Carltonreeks terug sal wees.

harlequins“Quins het nog wegwedstryde teen Impala en Tuks voor die deur, maar dit sal nie veel van `n verskil maak wie in die halfeindronde speel nie.”

Eybers sê die klub se tweede span vertoon al hoe beter en was tot die 50ste minuut nog sterk in die wedstryd. Hy het op die ou end 15-45 verloor.

“Die derde span het sy neut se krake toegeplak ná die gelykop uitslag teen die Dragons en oortuigend 34-20 teen Centurion gewen.

“Die jong manne kombineer mooi met die Black Quins-legendes (manne wat in 50 of meer Carltonwedstryde vir die eerste span gespeel het) soos Carel Viljoen (96 wedstryde), Hermann Dannhauser (56) en Dolph Nel (50).

“Die span is steeds boaan die punteleer en verseker van `n plek in die halfeindronde.”

Eybers sê die klub se o.21-span het Donderdag op Loftus met `n baie goeie vertoning laat in die seisoen 32-32 teen Centurion gelykop gespeel. Die o.20-span het oortuigend 30-18 gewen en is nou byna verseker van `n plek in die halfeindronde.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Impala 13, Naka 12; Polisie 30, Dragons 21.

Derde spanne

Naka 46, Impala 26; Polisie 12, Dragons 12.

O.21-spanne

Naka 64, Impala 20; Dragons 29, Polisie 18.

O.20-spanne

Naka 39, Impala 12; Dragons 53, Polisie 0.

(Klubbesture word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.