BBRU-liga: Polisie-vegters sit voorloper onder

pretoriapolisieIn `n volgehoue terugvegpoging ná `n gesukkel aan die begin van die seisoen het Pretoria Polisie Saterdag die voorloper in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A ondergesit.

Woordvoerders van albei kante sê Polisie het die oorwinning van 29-21 (rustyd 10-7) oor die Naka Bulle verdien. Naka verdien egter ook lof vir die wyse waarop hy in die kragmeting teruggeveg het nadat Polisie reeds 29-7 voor was.

Johann Kluyts, `n woordvoerder van Polisie, sê die rugby was die moeite werd, “goeie, harde klubrugby soos dit hoort”.

By nabetragting meen hy Polisie het miskien te gou veranderinge aan die opdrafspan aangebring, maar dan het hulle weer aan al hul spelers baie goeie blootstelling ter voorbereiding van die reeks om die Goue Beker gegee. In so `n harde wedstryd is dit wat spelers nodig het.

Kluyts sê dit kan op die veld gesien word dat Naka hard voorberei.

“Uiteraard is ek baie opgewonde oor Polisie se ‘herlewening’ die laaste paar weke, maar dis regtig jammer dat daar `n verloorder moes wees.

“Hoewel daar slegs enkele wedstryde oor is, is die Carltonbeker nog lank nie gewen nie, en gaan die komende week of wat van die interessantste in die geskiedenis wees.”

Hy sê uit `n Polisie-oogpunt het die hele span goed gespeel, maar dit sou onregverdig wees om nie die veteraan Imile Keyser (slot) en Tinus Hoffman (stut) uit te sonder nie.

naka bulle“Die afrigter, Nico Luus, en sy span het in moeilike tye kop gehou, hard gewerk en hulself terug in die prentjie geplaas. Vir iemand in sy eerste jaar van afrigting wil dit gedoen wees.”

Hoffman (2), Michael Nienaber (vleuel) en Ivan Venter (heelagter) het Polisie se drieë gedruk. Dillon Laubscher (losskakel) het drie doelskoppe en `n strafskop in punte omskep.

Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê die slag was gelewer toe Polisie in die tweede helfte die krane behoorlik oopgedraai en drie puik drieë binne die bestek van 15 minute gedruk het.

“Hul uitmuntende planmaker en skrumskakel, Hendrik van der Nest, was soos gewoonlik die man wat hul gevaarlike agterlynbewegings begin het.

“Die Naka-span, wat sowat twintig minute voor die einde van die wedstryd 7-29 agter was, het self sy stoffasie getoon deur met twee goeie drieë terug te slaan. Dit was egter nie genoeg om `n halfeindstryd te verseker nie, aangesien `n bonuspunt  daarvoor nodig was.

“Wat die wedstryd betref, was dit goeie en klipharde rugby wat in goeie gees en sportmanskap afgehandel is.

“Hoewel albei spanne puik geskrum het, het Polisie goed gevaar in die lynstane. Die agterlyne het goed teen mekaar opgeweeg, en die stryd om die losbal het ook redelik gelykop verloop.”

Rustenburg Impala se puntemakers teen Harlequins: Cecil Dumond, Leon du Plessis, Nico Kruger, Xolani Nkosi en Maverick van der Merwe. (Foto: Johanna de Vos)

Rustenburg Impala se puntemakers teen Harlequins: Cecil Dumond, Leon du Plessis, Nico Kruger, Xolani Nkosi en Maverick van der Merwe. (Foto: Johanna de Vos)

Beide spanne het lof gehad vir die wyse waarop die skeidsregter die wedstryd hanteer het.

Burger sê Naka, wat sonder die diens van `n paar staatmakers moes klaarkom, het in die wedstryd ook Anton Beswick (losskakel) en Jean Grobler (buitesenter) met redelik ernstige beserings verloor.

“Heelwat uitblinkers verdien om vermeld te word, maar die drieë van Robin Goliath (regtervleuel), Dirk Dippenaar (binnesenter) en Marcel Human (plaasvervanger) aan Naka-kant was puik.

Grobler, Dippenaar en Francois de Jonge (plaasvervanger) het dit verdoel.

In die ander wedstryd in die reeks het Rustenburg Impala 43-27 (rustyd 17-13) teen Harlequins gewen.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Naka 20, Polisie 8; Impala 88, Quins 0.

Derde spanne

Naka 34,Polisie 7; Quins 41, Impala 0.

O.21-spanne

Naka 76, Polisie 12; Quins 26, Impala 22.

O.20-spanne

Naka 40, Polisie 0; Quins 22, Impala 21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.