BBRU-liga: Pretoria Polisie skok Tukkies

Pretoria Polisie wat die Tukkies geklop het. (Foto: Johanna de Vos)

Pretoria Polisie wat die Tukkies geklop het. (Foto: Johanna de Vos)

Pretoria Polisie het Saterdag vir `n skok teen die Tukkies gesorg nadat die studente die afgelope klompie wedstryde die botoon teen die Bobbies gevoer het.

Die Groenkloofse span het die wedstryd op sy tuisveld 20-3 gewen nadat hy rustyd 10-0 voor was.

Dit span die kroon op `n klompie goeie vertonings waarin Centurion die Naka Bulle slegs 25-22 in Centurion kon klop (rustyd 12-12); en Rustenburg Impala, verlede jaar die naaswenner in die oop klubs se nasionale reeks, in Rustenburg 43-31 teen die nuweling in die Carltonliga A, die Dragons, gewen het (rustyd 24-20).

♦ Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê al maak die telbord anders wys, was dit die span van die Moot wat die meeste rugby gespeel het.

naka-logo“Naka se voorhoede, sowel as die agterlyn het die spel oorheers, soos die vier drieë teen een getuig.

“Hoewel die klub teleurgestel in die uitslag is, is Naka positief ingestel oor die wedstryde wat voor lê – ook omdat die res van Naka se spanne oorwinning gesmaak het.”

Burger sê die spelers het weereens hul harte uitgespeel en Sibongile Njomba is as die speler van die wedstryd gekroon.

Alec Mhlanga, Anton Beswick, Njomba en Robin Goliath het Naka se drieë gedruk en Jean Grobler het een verdoel.

Naka speel Donderdagaand op die Hannes Fourieterrein in die Moot teen Impala.

♦ Martin Vlok, die klubbestuurder van Dragons, sê die span van Pretoria-Noord het in die eerste helfte baie sterk teenstand gebied en Impala moes diep delf om hom in toom te hou.

“Die Dragons se voorspelers het bestendige balle aan die agterlyn gevoer waarmee Dirco Smuts twee keer kon gaan druk.

“Ná rustyd het oomblikke van swak konsentrasie in die verdedigingslinie Impala toegelaat om drieë te gaan druk en die voorsprong ietwat te rek.
“Dragons het nooit die handdoek ingegooi deur Impala toe te laat om volle beheer oor die wedstryd te neem nie, maar tot aan die einde geveg.”

Vlok sê Dragons se fiksheid het weereens opgeval en hul kon die wedstrydtempo tot met die eindfluitjie handhaaf.

“Die Dragons het `n sterk karakter gewys toe hulle, ná hulle in die tweede helfte `n paar vinnige drieë afgestaan het, self met 11 punte teruggeslaan het.

“Harde werk deur die voorspelers het aan die span goeie voorvoetbesit gegee en hulle kon wyd slaan, waar die woelige senter Smuts (twee), Roberto van der Mescht en die plaasvervanger Brandt de Klerk drieë kon gaan druk. Die heelagter, Emilio Duvenhage, het vir 16 punte met twee doelskoppe en vier strafdoele gesorg.”

dragonsIn die voorhoede het Robby Leibrandt en Peet Voster uitgeblink, en agter Marnus van Rensburg, Cor Rautenbach en Van der Mescht.

♦ Dragons se tweede span het 27-24 gewen (rustyd 17-12), die derde span 45-5 (rustyd 30-0); die o.21-span het 59-10 gewen; en die o.20s het punteloos gelykop gespeel.

♦ Vlok sê die tweedespanwedstryd was van begin tot einde kliphard.

“Die spanne het nie vir mekaar in die vaste fasette teruggestaan nie en daar is hard om goeie balbesit geveg.

“Impala se voorspelers het die Dragons goed die stryd aangesê, maar met volharding in sy wedstrydplan (danksy die balvaardigheid en goeie besluitneming van elke speler) en goeie kondisionering het die Dragons laat in die tweede helfte die oorhand gekry en die agterlyn met goeie balle gevoer om punte aan te teken.”

Hy reken die Dragons se gevaarlike agterlyn gaan hul teenstanders nog harde bene laat kou.

Francois Schutte het voor uitgeblink en Hansie Rossouw agter.

Ivan Niemandt het 12 punte met `n drie, twee doelskoppe en `n strafskop behaal. Brandt de Klerk (twee) en Donnavan Stokes het die ander drieë gedruk.

♦ Dragons se voor- en agterspelers het van die afskop af volle beheer oor die derdespanwedstryd geneem en sy spelpatroon gevestig, sê Vlok. Fiksheid en die handhawing van `n hoë tempo het ook hier die deurslag gegee.

Tussen die voorspelers het Quintis Janse van Vuuren uitgeblink en in die agterlyn Stefan van Aswegen en Ruben du Plessis.
Van Aswegen het drie drieë gedruk, en Devlin Nel, Janse van Rensburg, Jacques Powell en Du Plessis die res. Nel het ook vier doelskoppe oorgeskop om in totaal 13 punte aan te teken.

♦ Vlok sê die o.21-voorspelers het op `n nat veld vinnige en goeie balle aan die agterlyn besorg vanwaar die punte aangeteken is, maar die o.20s kon nie die toestand baasraak nie en `n slordige wedstryd het punteloos geëindig.

Ander uitslae –

Tweede spanne: Naka 24, Centurion 13; Polisie 41, Tukkies (Fezelas) 3.

Derde spanne: Naka 40, Centurion 5; Polisie 37, Tukkies (Pumas) 15.

O.21-spanne: Naka 21, Centurion 3; Tukkies-Jongspan 18, Polisie 0.

O.20-spanne: Naka 21, Centurion 6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.