BBRU-liga: QBR en Naka skok twee kampioene

Die Naka Bulle se puntemakers: Marthinus Hoffman, Francois de Jonge, Jean Grobler, Anton Beswick, Marquit September en Marcel Human. (Foto: Johanna de Vos)

Tussen Quins-Bobbies-rugby (QBR) en die Naka Bulle het hulle Saterdag met twee van die kampioene in die Blou Bulle-rugbyunie se Carlton-A-liga afgereken.

QBR het die internasionale Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala oortuigend met 37-20 geklop (rustyd 25-7); en Naka het die verdedigende Carltonkampioen, Centurion, met 52-22 afgeransel (rustyd 26-17).

Die Varsitybeker-kampioen, die Tukkies, het op sý beurt met 48-0 teen die Dragons gewen (rustyd 19-0).

Die resultaat is dat Centurion van die eerste tot die derde plek op die punteleer gesak het, met QBR nou die voorloper en die Tukkies tweede.

♦ Buks Burger, die klubbestuurder van Naka, sê die wenspan het eerste bloed geruik, en binne enkele minute ʼn goeie drie behaal. Teen rustyd was die telling 26-17 in Naka se guns.

“Die Naka-manne het in die tweede helfte voortgebou op wat hulle in die eerste helfte bereik het, en nog 26 punte aangeteken voor die eindfluitjie geblaas het.

“Die spanne het mekaar met mening gevat, en alles in die stryd gewerp om die wedstryd te wen, maar dit was Naka se goeie samespel en leiding, wat hulle as oorwinnaars van die veld laat stap het.”

“Die slot Jean van der Westhuizen se puik spel het hom die toekenning as speler van die dag besorg. Die senter Marquit September was die beste agterspeler.

Naka het agt drieë gedruk, waarvan Anton Beswick ses verdoel het.

Francois de Jonge (twee), Marquit September (twee), Beswick, Thinus Hoffman, Marcel Human en Jean Grobler het die wenspan se drieë gedruk.

Burger sê die oorwinning het die agterdeur vir die Mootmanne oopgelaat om ʼn plek in die uitspeelronde te beding, wanneer hulle aanstaande Saterdag die sterk span van Impala in Rustenburg die stryd aansê.

“Dit is dus in hul eie hande, en sonder twyfel sal hulle hiervandeesweek voorberei om daardie doel te bereik.”

♦ Charles Pelser, Centurion se klubbestuurder, laat weet Jacques Olivier, Cameron van Heerden en Steven Moir het die Carltonkampioen se punte aangeteken. Moir het ook met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Fezelas (UP) 85, Dragons 31; Naka 41, Centurion 36; QBR 31, Impala 28.

Derde spanne

Pumas (UP) 48, Dragons 27; Centurion 29, Naka 22; QBR 40, Impala 5.

Onder 21-spanne

QBR 32, Centurion 24.

Onder 19-spanne

TUT gee punte teen Dragons; Tukkies 33, Impala 12; Centurion 31, QBR 27; Naka 60, Tuine 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neels pieterse ·

Ek geniet die verslag van die Carlton beker wesdstryde aan gesien, niemand daaroor berig as maroela media en die gemeenskap koerante . Wat my pla is dat maroela media altyd net voledige verslag doen oor naka bulle se wedstryde en dit lyk of die ander klub net toevallig genoem word.
Moet die klub die verslaggewer kontak of hoe werk dit

Nico K ·

Ek stem saam met Neels. Ek volg ook graag die klub uitslae. My afleiding as ek die berigte lees is dat dit die klubs is wat self verslae instuur. Wat ek graag wil weet, julle noem die eerste drie plekke, maar wie is 4de. Naka of Impala? Die eerste vier is aanspraakmakers vir die halfeindstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.