BBRU-liga: skild Naka s’n; Tukkies op wenpad

tukkiesDie Naka Bulle het die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Lucas Strachanskild gewen, en die Tukkies is weer op die wenpad.

Al was Naka nie Saterdag in aksie nie, kon geeneen van die ander BBRU-spanne hom inhaal nie, en is hy ná die eerste ronde van die Carltonliga A boaan die punteleer en wen soedoende die skild.

Die Tukkies wat dusver gesukkel het, het Harlequins 66-3 geklop (rustyd 31-3) en dit lyk of die studente op die herstelpad is. In `n stryd tussen twee van vanjaar se Goue Bekerspanne het Rustenburg Impala (Luiperds) Pretoria Polisie (Blou Bulle) 44-26 geklop (rustyd 17-14). Centurion het Gragons 42-31 geklop (rustyd 31-7).

♦ Morris Gilbert, die Tukkies se spanbestuurder, sê dit was die studente se beste vertoning van die seisoen, en die span kan met vrug in die tweede ronde daarop voortbou.

“Die aggtal se spel was puik en het goeie besit vir die gevaarlike agterlyn verseker.”

Marcel Steyn Scholtz het 24 van die wenspan se punte behaal deur `n drie te druk en agt doelskoppe en `n strafdoel deur die pale te stuur.

Theuns Reynolds (2), Jacques Rossouw (2), Dandré van der Westhuizen, WJ Strydom, Willie Engelbrecht en Frederik Eksteen het die ander drieë gedruk.

Rossouw het `n doelskop bygevoeg om sy bydrae op 12 te staan te bring.

Quins se punte het van `n strafdoel deur die heelagter, Paul Walters, gekom.

Die Fezelas het 99-6 teen Quins II gewen, en die onoorwonne Quins III het die studente 33-26 geklop.

harlequins♦ Ben Eybers, die voorsitter van Quins, sê die studente het getoon hoekom hulle verlede jaar die Carltonwenner was.

“Nege lede van verlede seisoen se eerste span het Quins harde bene laat kou.

“Die drie losvoorspelers, Gerrit Engelbrecht, Buzwe Mpotolo (flanke) en veral Willie Engelbrecht op agsteman het woelwaterspel gelewer en Quins by die afbreekpunte getroef.”

Eybers meen `n ongeoorloofde skouer in die gesig (sonder om die arms te gebruik) wat deur die wedstrydbeamptes misgekyk is, was verantwoordelik vir die wangbesering waarmee die Quins-skrumskakel, Duval Smith, die veld moes verlaat.

Hy sê die besering van Quins se haker en kaptein, Jan-Hendrik Bosman, toe die wedstryd sowat tien minute oud was, het Quins se ritme versteur.

“Die Tukkies was gou-gou 21-0 voor. Toe het Quins met elke bal propeer hardloop en die Tukkies het hul foute behoorlik uitgebuit.”

Die Lappiestruie het net vyf dae om te rus voordat hulle Donderdag op Quins se veld in Groenkloof met die Carlton-voorloper, Naka, kragte meet.

tut vikingsCarltonliga B

♦ Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het sy segetog in die Carltonliga B voortgesit deur Brits 44-17 op Brits te klop. Die Vikings was rustyd 26-17 voor.

Neels van Heerden, die wenspan se voorsitter, sê dit was `n baie harde wedstryd, waar Brits se groter voorspelers probeer oorheers het, maar TUT se blitsige en vaardige agterlyn ses uit sy sewe drieë gedruk het.

Die uitblinkers spreek van die spelers veelsydigheid. Nes verlede week was dit Lewies van Deventer en Stanley Modjadji. Dié keer egter was Van Deventer die binnesenter nadat hy verlede week losskakel gespeel het, en Modjadji wat verlede week as haker uitgemunt het, het dié keer op loskop gesak.

Dylan du Buisson, TUT se losskakel het 14 punte met `n drie, drie doelskoppe en `n strafdoel bygedra.

Mfunda Gumede (regtervleuel), Lisa Banzi (buitesenter), Van Deventer, Arno Brits (regtervleuel), Kurt Mackay (skrumskakel) en Claude Johannes (slot en kaptein) het die res van die drieë gedruk.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Polisie 59, Impala 26; Dragons 52, Centurion 8.

Derde spanne

Impala 24, Polisie 13; Centurion 0, Dragons 0.

O.21-spanne

Polisie 38, Impala 18; Dragons 48, Centurion 13; Tuks-Jongspan 98, Harlequins 0.

O.20-spanne

Impala 22, Polisie 0; Dragons 33, Centurion 17; Tukkies 10, Harlequins 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.