BBRU-liga: topklubs haaks oor o.20/21-kwessie

madeliefieTwee topklubs in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-A-liga is haaks oor `n o.21- en `n o.20-wedstryd – en die kwessie kan wyer implikasies hê.

Die Goue Bekerspan Rustenburg Impala, `n Luiperdsklub wat vanjaar in die Blou Bulle se Carltonliga speel (maar nie die beker kan wen nie), kon Donderdag in die eerste ligawedstryde nie `n o.20-span teen die Tukkies in die veld stoot nie.

In reaksie het die studenteklub al sy spanne wat vandeesweek teen Impala moes speel aan hul wedstryde onttrek.

Kragtens die reëls van die Carlronreeks moet `n klub vyf spanne (eerste, tweede, derde, o.21 en o.20) hê om in die A-afdeling te speel en Impala se A-status kan gevolglik in die gedrang kom.

Dit is ook nie duidelik of die Tukkies punte sal moet afstaan in die geval van die wedstryde waaraan die klub onttrek het nie.

Eugene Hare, die hoof- uitvoerende beampte van die BBRU, het aan Pale Toe! gesê die bond se Kompetisiekomitee sal die saak so gou doenlik bespreek.

Die BBRU sal eers daarna kommentaar lewer.

♦ Impala is nie die enigste oop klub in die Carltonliga wat sukkel om `n o.20-span bymekaar te kry nie en ander klubs het dit weer op senior vlak moeilik.

Dit plaas die internasionale sportpromotor Willem Strauss se persoonlike beskouing dat die bedryf van onderouderdomrugby geheel en al afsonderlik van senior rugby moet geskied opnuut onder die loep.

Hy beskou die tradisionele klubstruktuur as uitgedien as dit by die hedendaagse eise aan die spel kom.

Pale Toe! het vroeër hieroor berig by http://rugby.maroelamedia.co.za/2016/03/10/tradisione-klubstruktuur-uitgedien-se-promotor/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.