BBRU-liga: topspanne tot barstens toe beproef

naka-logoDie deelnemers in die Blou Bulle-rugbyunie se voorste liga het mekaar Vrydag en Saterdag tot barstens toe beproef.

Die Tukkies kon die Naka Bulle net 23-20 klop; Rustenburg Impala het die Polisietemmer Centurion 24-21 geklop; en die nuweling, Dragons, het 26-17 teen die oudste oorlewende Carltonklub gewen.

Ben Eybers, Harlequins se voorsitter, voorspel dit gaan vanjaar `n baie strawwe reeks wees, met dié slag geen bonuspunte vir vier drieë nie, en amper al die spanne wat verloorbonuspunte gekry het.

♦ Buks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, bestempel die stryd op die LC de Villiersterrein teen die studente as titanies.

“Naka het eerste bloed geruik toe Anthony Beswick vroeg al gaan druk het. Twee strafdoele deur Jean Grobler het gevolg en die span van die Moot was 11-0 voor.

“DieTukkies het algaande teruggeveg en uiteindelik twee doele en drie strafdoele behaal.

“Grobler het met nog drie strafdoele vir Naka geslaag.”

Burger sê hoewel die skeidsregter nie geskroom het om spelers aan albei kante te straf nie, het hy hom goed van sy taak gekwyt, en het beamptes van al twee spanne ná die wedstryd min kritiek op sy vertoning gelewer.

Hy sê Tukkies het in die skrums die botoon gevoer, ofskoon Naka teen die einde beter in hierdie afdeling vertoon het.

“Dit was `n tipiese klipharde Carltonwedstryd waarin beide spanne 80 minute lank alles in die stryd gewerp het. Dit was `n skoon wedstryd wat in `n goeie gees gespeel is.

“Die wedstryd was tot op die einde in die weegskaal, maar Naka kon ongelukkig vir hulle nie die laaste aanvalle in punte omskep nie.”

Burger loof die Tukkiesspan “wat maar altyd `n moeilike span is om te klop, veral op sy tuisveld”.

Hy sê Grobler was een van Naka se vele uitblinkers. Ander was Beswick en Fanie Rasarorka, terwyl die jongeling JP Alberts (agsteman) en die res van die lostrio puik spel gelewer het.

Damian van Wyk en Theuns Reynolds het die studente se drieë gedruk. Abri Reynolds het twee doelskoppe en drie strafdoele (13 punte) bygedra.

Die Tukkies se tweede span het 43-12 en die derde 33-19 gewen.

Naka speel die komende Saterdag teen Centurion.

Cecil Dumond (Varsity Cup)

Cecil Dumond (Varsity Cup)

♦ Die naelskraapse sege teen Centurion, wat Pretoria Polisie die vorige week verrassend geklop het, was `n nare wakker skrik,” sê Jan McLachan die sekretaris van Impala.

“Dis moeilik om te sê of dit aan die roes van `n maand sonder wedstryde of aan oorgerustheid te wyte was.”

Hy sê hoofsaaklik omdat Impala nie sy kanse pale toe benut het nie, was Centurion rustyd 21-14 voor.

In die eerste helfte het die losskakel, Francois van Biljon, en die agsteman en kaptein, Justin Wheeler elk `n drie gedruk. Cecil Dumond het albei verdoel vir Rustenburg se 14 punte.

“Wat rustyd gesê is, weet ons nie, maar Dumond het kort ná die hervatting met `n strafskop geslaag om die telling na 17-21 te neem. Die veteraan Morné Basson het van die bank af opgegaan om die wendrie te druk, wat deur Dumond verdoel is.”

Impala se tweede span het maklik 41-17 gewen en “as daar `n prys vir die span van die dag was, sou hy dit sonder twyfel gewen het”, sê McLachan. “Dis `n span om dop te hou. Hulle gaan meer kere verras”

Hy sê die twee oudspelers Willie Kok en Nelis Nel, wat die span brei, ken rugby en weet hoe om die beste uit `n span te haal.

Saterdag speel Rustenburg Impala tuis teen Dragons.

McLachan sê dis die tweede keer dié seisoen dat die twee klubs kragte meet en almal is bewus dat die nuweling Dragons g’n katjie is om sonder handskoene aan te pak nie.

Die rugby begin 14:00.

dragons♦ Martin Vlok, die klubbestuurder van Dragons, laat weet dat die wedstryd tussen die nuweling en Quins van meet af aan hard was.

“Dragons se voor- en agterspelers het deurgaaans die wedstryd beheer en kontinuiteit behou. Die agttal het die skrums, lynstane en die losgemale dikteer en goeie balle aan die agterlyn besorg om `n voorsprong van 16-0 op te bou.

“Die meedoënlose wyse waarop die agterlyn die doellyn verdedig het, was merkwaardig.”

Vlok sê Harlequins het toe stadig begin terugveg met `n goeie verdoelde drie om die telling 16-10 te maak en die wedstryd was weer in die weegskaal.

Ná nog `n strafdoel deur Emilio Duvenhage en `n daaropvolgende drie is die wedstryd buite Harlequins se bereik geplaas, wat teen die einde van die wedstryd `n troosdrie gedruk het.

Jaco Coetzee, Robbie Leibbrandt, Eddie Oliver en Duvenhage het uitsonderlike spel vir Dragons gelewer.

Vlok skryf die Dragons se sukses aan die spelers se goeie vaardighede en puik kondisionering toe.

Oliver en Roberto van der Mescht het Dragons se drieë gedruk en Duvenhage het 16 punte met twee doelskoppe en vier strafdoele aangeteken.

Vlok sê Dragons se tweede span het eweneens uit die staanspoor volle beheer oor die wedstryd geneem en alle fasette oorheers om tien drieë te druk en agt te verdoel om 66-7 te wen.

Brand de Klerk, Dirco Smuts en die buksie van die span, Pikkie Jacobs, het veral uitgeblink.

Harlequins het `n slordige derdespanwedstryd 17-13 gewen.

Quintus Jansen van Vuuren en Juan Buckle het Dragons se drieë gedruk.

Die speler van die wedstryd was Devlin Nel, wat deurgaans alles in die stryd gewerp het om Dragons op die voorvoet te hou.

harlequins♦ Gert Mulder, die hoofafrigter van Harlequins, sê hanteer- en individuele foute het Quins se eerste span die wedstryd teen Dragons gekos.

Hy skryf dit toe aan nuwe spelers wat mekaar se spel nog moet leer ken, en glo Quins moet in die toekoms meer op sy sterkpunte konsentreer.

Aan die positiewe kant is hy beïndruk deur sy span se vurigheid en hoë werkverrigting.

“Die vaste fasette was stabiel en het `n goeie basis geskep om van te speel.

“Ons teenstanders het ons foute uitgebuit en ons sal in die toekoms gewis ons balbesit beter beskerm,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Quins se nuwe loskopstut, Pieter Killian, het uitgeblink met sy hoë werkverrigting op die aanval en verdediging. JP Nel (flank) was die hele veld vol. Jacques Roos (heelagter) was rotsvas onder die hoë bal en het `n skitterende rol as tweede losskakel vervul. Jaques Petzer-Moore (losskakel) wissel sy spel goed af en weet wanneer om die agterlyn te voer of self aan te val.

Divan Binneman het Quins se twee drieë gedruk en Petzer-Moore, wat verlede jaar vir die South Coast Warriors (Uvongo) en die Suid-Natalse subunie uitgeblink het, het vir twee doelskoppe en `n strafdoel gesorg.

♦ Ben Eybers, Quins se voorsitter, sê die Groenkloofse span het Saterdag gewys hy het herstel van die twee groot nederlae in die Assupolreeks en dat hy nog `n paar ander klubs in die Carltonreeks sal besig hou.

Ander uitslag –

Centurion 19, Impala 13.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Hierdie naweek se tellings is net goed vir rugby. Hoe meer kompeterend hoe meer ontwikkel spelers en die spel. Geluk aan die Dragons wie duidelik hulself laat geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.