BBRU-liga: Tuine sink Valke; TUT onoorwonne

tuine-grizzlies-logoTuine se Grizzlies het die Silver Valke se segetog in die Carltonliga B Saterdag gestuit, terwyl die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) sy derde wedstryd opeenvolgend gewen het.

Die Grizzlies het die Valke 23-15 geklop; en die TUT Vikings het Eersterust 71-12 gestroop.

♦ Jaco Olivier, die klubbestuurder van Tuine, sê die wedstryd het met `n vinnige drie deur elke span begin en die Valke van Silverton was rustyd 15-13 voor.

“Die Grizzlies se losskakel is binne die eerste tien minute beseer en die oud-staatmaker Wesley Bornmann moes sy tweede wedstryd van die dag speel.

“Die heelagter Pieter Verwey het die telbord met sy skopskoen laat aanrol en drie strafdoele en twee doelskoppe (13 punte) behaal.

“Die wenspan, wat die teëspoed van die Assupolreeks nou uit sy gestel het, het in elke helfte `n pragdrie gedruk.”

Dis die Grizzlies se tweede sege in die liga ná sy oorwinning van 57-0 oor Atteridgeville.

Olivier sê die tweede span het die eerste keer vanjaar regtig as `n eenheid saamgespeel, maar ondanks `n menigte aanvalle kon hy net een drie druk en die Valke het 28-7 gewen.

Die Grizzlies se derde span, wat spelers insluit van die klub se destydse eerste span wat sy liga in 2009 gewen het, het die Valke 66-7 oorrompel.

Sarel le Grange (twee), Michael de Beer (twee), Soon Broodryk, Raymond Esterhuyzen (twee), Neels Rademyer, Hugo Viljoen, Wesley Bornmann het die drieë gedruk. Bornman het sewe verdoel (19 punte saam met sy drie) en Le Grange een.

Die klub speel vervolgens op sy tuisveld teen Cullinan.

tut vikings♦ Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, sê die Vikings het voor die wegholsege teen Eersterust reeds Noordelikes (41-17) en Korrektiewe Dienste (35-15) geklop.

“Die feit dat TUT nog onoorwonne is, wys hoe sterk die spanne in die reeks om die Varsityskild is,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Van Heerden sê TUT het `n ligter agttal, maar sy skrumwerk is uitstekend.

Dylan du Buisson is as die speler van die wedstryd aangewys. Met twee drieë en agt doelskoppe het hy vir 26 van sy span se 71 punte gesorg.

Chetwin Gaffley, Lewies van Deventer (twee), Arno Brits, Kurt Mackay, DK Mukendi (twee), Jacobus Roos en Stanley Modjadji het die ander drieë gedruk.

Van Heerden sê TUT se tweede span is ook nog onoorwonne met seges oor Eersterust (14-3), Korrektiewe Dienste (15-10) en Noordelikes (24-3).

Die Sefako Makgatho-universiteit vir Mediese Wetenskap (SMU), wat as TUT III deelneem, het nog net teen Eersterust – Korrektiewe Dienste se oumanspan – verloor (12-36). Hy het Korrektiewe Dienste se derde span 24-22 en Noordelikes s’n 12-10 geklop.

Die o.20-span was ná Saterdag se wedstryde boaan die punteleer ná seges oor Dragons (17-14), Polisie (31-8) en Harlequins (20-0).

♦ In die lig van die minister van sport se jongste uitlating oor transformasie wys Van Heerden op die spelersprofiel by TUT [TUT I, II en III (SMU)] soos van toepassing tydens die wedstryde teen Eersterust –

TUT I: uit die 22 spelers is 13 nog o.21 en 11 is spelers van kleur;

TUT II: uit die 22 spelers is nege nog o.21 en 18 is van kleur;

TUT III (SMU): uit 23 spelers is tien nog o.21 en is 22 van kleur.

“Bogenoemde wys hoekom TUT nie ‘n o.21-span in die Carltonlig A kon inskryf nie – 22 uit 44 spelers (TUT I en II) is nog o.21. Uit 44 is 29 (66%) van kleur. As `n mens SMU byvoeg, is 51 uit 67 (76%) spelers van kleur.”

Van Heerden wys ook daarop dat TUT in 2016 die enigste binnelandse universiteit sal wees wat aan die reeks om die Varsityskild sal deelneem.

♦ Ben Eybers, die voorsitter van Harlequins, sê met verwysing na die o.20-wedstryd teen TUT dat dit `n taai stryd was en dat die studente die uitslag eers in die laaste tien minute uit Quins se hande geneem het om 20-0 te wen.

♦ André Booyse, die voorsitter van Bronkhorstspruit het laat weet Pretoria Militêr het aan die wedstryd in die Carltonliga C teen Bronkies onttrek en laasgenoemde kry die punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius Verwey ·

Die heelagter was Pieter Verwey en nie Scheepers nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.