BBRU-liga: Tukkies begin sake deurmekaar krap

Die Naka Bulle met die Lucas Strachantrofee. Van links is Ian Herbst (voorsitter), Morné Human (afrigter), Marinus van der Watt (rugbydirekteur), Anthony (Koedoe) Oberholzer (afrigter), en voor Sylvester Booysen (kaptein).

Die Naka Bulle met die Lucas Strachantrofee. Van links is Ian Herbst (voorsitter), Morné Human (afrigter), Marinus van der Watt (rugbydirekteur), Anthony (Koedoe) Oberholzer (afrigter), en voor Sylvester Booysen (kaptein).

Die opwinding in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A duur voort en dit lyk of die Tukkies sake in die tweede helfte wil deurmekaar krap.

Die studente wat in `n stadium die agteros in die reeks was, het op LC de Villiers die voorloper, Rustenburg Impala, 38-27 getroef nadat hulle in die eerste ronde punte teen die Luiperdsklub (wat kragtens die reeksooreenkoms nie die beker kan wen nie) gegee het.

In Groenkloof het die Naka Bulle 40-0 teen Harlequins gewen, verbasend gelyk aan die eerste ronde toe die Mootspan 48-8 oorheers het.

Centurion het naelskraap 24-23 teen Polisie gewen, en dis toenemend duidelik dat die Blou Bulle se Goue Bekerspan en die oop klubs se nasionale plaatkampioen iets daadwerkliks sal moet doen as hy in vanjaar se internasionale klubreeks sal wil saampraat.

♦ Buks Burger, die Naka Bulle se klubbestuurder, sê die manne van die Moot se agttal het die spel voorlangs, veral in die vaste skrums oorheers om van die oorwinning seker te maak.

“Naka moes hard vir die oorwinning teen `n begeesterde Quins-span werk, en kon in die tweede helfte net 14 punte aanteken nadat hulle rustyd reeds 26-0 voorgeloop het.

“Hoewel dit altyd moeilik is om spelers uit te sonder nadat `n span as eenheid baie goed en vir mekaar gespeel het, verdien die losskopstut en kaptein, Sylverster Booysen spesiale vermelding vir sy harde spel, en ook die wyse waarop hy die span gelei het. Behalwe vir puik skrumwerk, het hy saam met sy agttal  gewoel, en by tye met  goeie dryf- en hardloopbewegings sy span vorentoe gevat.”

Burger sê Booysen het `n puik drie gedruk. Die nuwelingslot, Daniel Hart, en die flank Branley Odendaal het ook elkeen `n drie behaal, en die losskakel, Anton Beswick, wat goed van sy besering herstel het, het ook gaan druk.

“Jean Grobler wat op binnesenter puik spel op die aanval  sowel as die verdediging gelewer het, was vir 20 van sy span se punte verantwoordelik deur twee driee te druk, en met vyf doekskoppe te slaag.”

Ná die wedstryd het die span die Lucas Strachanskild as oorwinnaars van die eerste ronde van die Carltonliga A van Eugene Hare, due hoof- uitvoerende beampte van die BBRU in ontvangs geneem.

“Die span en die bestuur besef dat daar nog `n lang en harde pad tot en met die einde van die reeks voor lê, en die eerste hekkie wag sommer Saterdag 4 Junie wanneer daar op sy tuisveld teen die Tukkies kragte gemeet word.

♦ Gaybrin Smith van Centurion is dusver die voorste puntemaker met 91, wat drie drieë insluit; en Justin Wheeler (Impala) en Theuns Reynolds (Tukkies) het elk vyf drieë gedruk.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Naka 32, Quins 0; Fezelas (UP) 71, Impala 5; Polisie 21, Centurion 13.

Derde spanne

Quins 26, Naka 10; Pumas (UP) 52, Impala 28; Polisie 28, Centurion 10.

O.21-spanne

Naka 65, Quins 3; Tuks-Jongspan 116, Impala 0; Polisie 41, Centurion 30.

O.20-spanne

Quins 20, Naka 15; Tukkies 36, Impala 19; Centurion 53, Polisie 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.