BBRU-liga: Tukkies neem die voortou

Die Tukkies se puntemakers: Marcel Steyn Scholtz, WF Strydom, Jacques Rossouw, Marais Schmidt, Frederik Eksteen, Lourens Pretorius en voor Theuns Reynolds.

Die Tukkies se puntemakers: Marcel Steyn Scholtz, WF Strydom, Jacques Rossouw, Marais Schmidt, Frederik Eksteen, Lourens Pretorius en voor Theuns Reynolds. (Foto: Johanna de Vos)

In die soveelste verwisseling van die voorloper in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A die afgelope paar weke het die Tukkies pas die voortou geneem.

Dit volg op die studente se sege van 51-6 (rustyd 27-6) oor Centurion, een van die gunstelinge in die reeks, en span die kroon op `n merkwaardige terugvegpoging van onder af.

In nog `n verrassende wending het die nuweling in die reeks, Dragons van Pretoria-Noord, die vorige voorloper, Naka Bulle, laat tuimel deur die span van die Moot 23-20 (rustyd 15-8) te klop.

Om met `n eerste probeerslag die halfeindronde in die BBRU se Carltonliga A (of enige ander senior liga ) oop te veg, sit nie in enige span se broek nie, maar tensy Polisie wesenlik regruk en die res van sy wedstryde oortuigend wen, is dit wat die Dragons vanjaar gaan regkry.

Die Tukkies het nou 31 ligapunte, Naka 30, Centurion 28, Dragons 27, Rustenburg Impala (wat nie die reeks kan wen nie) 26, Polisie 19, en Harlequins 6.

Gaybrin Smith (Centurion) is met 124 die voorste puntemaker. Manus van Rensburg (Dragons) het 11 en Theuns Reynolds (Tukkies) agt drieë gedruk. Reynolds het `n driekuns teen Centurion vermag.

naka bulleBuks Burger, die klubbestuurder van die Naka Bulle, sê dit was `n begeesterde Dragons-span wat Naka geklop het.

“Die Dragons het met mag en mening begin, en vroeg in die wedstryd hul eerste punte met `n drie aangeteken. Hulle het tot bykans twintig minute voor die einde van die wedstryd voorgeloop, toe die telling 20-20 was.

“Hoewel Naka in die doodsnikke verwoed aangeval, maar net nie kon afrond nie, was dit Dragons wat laaste gelag het, toe hulle sowat tien minute voor die einde van die wedstryd met `n goeie  skepskop deur Emilio Duvenhage die wedstryd beklink het.”

Jean Grobler, Juan van der Westhuizen en Lawrence Cleminson het Naka se drieë aangeteken, terwyl Grobler ook `n strafdoel behaal het. Die agsteman, JP Alberts, het met `n doelskop geslaag.

Naka speel Saterdag op Rustenburg teen Impala sy voorlaaste wedstryd van die reeks.

Burger sê dis belangrik vir Naka om goed gemotiveerd en aangevuur na Rustenburg op te ruk, en dit kan aanvaar word dat die afrigtingsspan gedurende die week se voorbereidings juis daarvoor sal sorg.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Dragons 34, Naka 19; Fezelas (UP) 73, Centurion 7.

Derde spanne

Naka 22, Dragons 22; Pumas (UP) 36, Centurion 7.

O.21-spanne

Naka 17, Dragons 17; Tuks-Jongspan 114, Centurion 14.

O.20-spanne

Naka 26, Dragons 17; Tukkies 22, Centurion 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.