BBRU-liga: Tukkies o.21 wen net-net teen Naka

tukkiesDie Tukkies se o.21-span het Donderdag sy wedstryd teen die Naka Bulle naelskraap deurgetrek en met `n enkele punt gewen.

Hy het `n sege van 27-26 behaal.

Len Olivier, die hoofafrigter van die Tukkies se o.21s, laat weet dit was `n tipiese klipharde Carltonwedstryd wat in `n goeie gees gespeel is.

“Dit was ons eerste wedstryd sedert Rustenburg Impala die vorige week onttrek het, dus was dit normaal om nog baie verroes te wees ná `n volle maand sonder rugby.

“Nadat ons rustyd reeds 24-8 voor was, het Naka baie goed teruggeveg om ons tot die heel einde te druk.”

Olivier sê sy span het `n sterk karakter getoon om die wedstryd op die ou einde deur te trek, hoewel hy glad nie goed gespeel het nie.

“Faf Naude het `n groot impak gemaak en Hennie le Roux was `n staatmaker,” sê hy oor die span se uitblinkers.

Die twee klubs se o.20-spanne het 12-12 gelykop gespeel.

♦ Dragons o.21 het Harlequins o.21 36-7 geklop. Die rustydtelling was 29-7.

`n Woordvoerder van Quins sê  Dragons het vroeg `n paar vinnige drieë gedruk om Quins onder groot druk te plaas en nie weer teruggekyk nie.

“Hulle het goeie balbesit uit die vaste fasette glad weggekry na die agterlyn toe, en Quins nie toegelaat om dieselfde te doen nie. Quins was eenvoudig nie in die eerste helfte in die wedstryd nie en Dragons het rustyd gemaklik 29-0 voorgeloop.

“In die tweede helfte was daar `n baie beter vertoning deur die Lappiestruie en die spanne kon slegs `n verdoelde drie elk oplewer.”

harlequinsHy sê die losvoorspelertrio van Dragons het uitgeblink met sy werk op die grond en kragtige lopies in die eerste kanaal, terwyl Quins se binnesenter, Dylan Dreyer, met sy verdedeging beïndruk het

Franco Hoogenhout het Quins se drie gedruk en Jason Makhari het dit verdoel.

♦ Dragons se o.20 span het 29-10 gewen nadat hy rustyd 19-5 voor was.

Die Quins-woordvoerder loof Dragons vir sy vasberandenheid en toewyding die volle 70 minute lank.

“Hy het elke geleentheid benut wat hy gekry het.

“Die wedstryd het aanvanklik baie gelykop verloop, maar Dragons het later in die eerste helfte die oorhand begin kry.”

Jason Makhari en Ruben Hohls het Quins se drieë gedruk.

♦ Jan McLachan, die sekretaris van Rustenburg Impala sê die klub se o.20-span was baie ongelukkig om met `n enkele punt te verloor.

Sy Centurionse portuur het 14-13 gewen.

Centurion se o.21-span het Impala 52-10 oorskadu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.