BBRU-liga: Tukkies verloor derde op die ry af

Die Varsitybekerkampioen, die Tukkies, het Saterdag hul derde nederlaag op die ry af gelei toe hulle die knie voor die oop klubs se Goue Bekerhouer moes buig.

Rustenburg Impala het die wedstryd met 40-33 gewen (rustyd 14-5).

Quins-Bobbies-rugby (QBR) het op sy beurt verras met ʼn oortuigende sege van 52-31 oor die Carltonkampioen en huidige voorloper, Centurion (rustyd 29-17).

Die Naka Bulle het met 57-17 teen die Dragons van Pretoria-Noord gewen (rustyd 17-7).

Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê die Dragons het in die eerste helfte kwaai wal gegooi, maar Naka het algaande beter vertoon, en veral in die laaste sowat twintig minute die krane behoorlik oopgedraai.

“Dit was ook in dié tyd dat die Mootspan ʼn erge terugslag beleef het, toe sy slot Robert Boshoff die veld met ʼn ernstige kniebesering moes verlaat en vir behandeling hospitaal toe moes gaan.

“Dis nog onseker hoe ernstig die besering is, en of hy ʼn operasie sal moet ondergaan.

“Intussen sal Naka vandeesweek in erns voorberei vir die moeilike wedstryd wat aanstaande Saterdag teen Centurion op hom wag.”

Marquit September (drie), Christoff Crail, Robbie Boshoff, Gerhard du Preez, Louis van Biljon, Francois de Jonge en Marcel Human het Naka se nege drieë gedruk. Jean Grobler het vier hiervan verdoel, en Hansie Graaff twee.

Graaff, wat Curriebekerrugby vir die Griffons en die Suidwestelike Distrikte gespeel het, was die afgelope Europese seisoen een van die voorste puntemakers in die Spaanse topliga.

Ander uitslae –

Tweede spanne

Naka 77, Dragons 10; QBR 54, Centurion 5; Impala 34, Fezelas (UP) 32.

Derde spanne

Dragons 24, Naka 10; QBR 32, Centurion 12; Pumas (UP) 20, Impala 18.

Onder 21-spanne

Impala 45, Dragons 35; Tuks-jongspan 47, Centurion 14.

Onder 20-spanne

Naka wen by verstek met 40-0 teen TUT; Dragons 32, Impala 10; Centurion 24, Tukkies 24; QBR 24, Tuine 22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Emile ·

Dis so lekker om vir die eerste keer die opwindende reeks lewendig te kyk op die BBRU App/toep. Mens besef nie watse goeie rugby mens mis deur nie die klub rugby nie te kan sien nie! Dankie BBRU vir die “great” inisiatief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.