BBRU-liga: TUT stuit Harties se oorwinningstog

Hartbeespoort se oorwinningstog van 31 agtereenvolgende seges is in die jongste ronde van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) se Carlton-B-liga deur die verdedigende kampioen, die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT), gestuit.

Neels van Heerden, die voorsitter van TUT, sê een van die lynregters het ná die wedstryd aan hom gesê dit was een van die heel beste Carltonbeker-wedstryde wat hy gesien het.

“Die studente was tot pas voor rustyd ver voor (met 23-7),” laat weet Van Heerden, “maar ná rustyd het Hartbeespoort 35 minute lank die botoon gevoer, en in ʼn stadium met 25-23 voorgeloop.

“Arno Brits het TUT se wendrie gedruk pas voor die eindfluitjie geblaas is.”

Van Heerden sê Stephan Kekana van Hartbeespoort het gewys dat hy een van die beste senters in die Carlton-B-liga is.

“Enige klub wat aspireer om dié liga te wen, sal eers verby Harties moet kom.”

Stanley Modjadji, Brits (twee) en Tshepo Nyathi het die wenspan se drieë gedruk. Shawn Jaards het een verdoel en met twee strafdoele geslaag, en Litha Vumisa het nog een verdoel.

Van Heerden sê die wedstryd tussen die tweede spanne was eweneens ʼn skouspel waar die finale uitslag tot aan die einde in die weegskaal was.

Die studente het met 24-22 gewen.

TUT II se drieë is deur Nkululeko Shabangu, Sandile Sibanda, Cascious Dube en Ndivho Nematandani gedruk, en Sibanda het twee daarvan verdoel.

♦ Ockie van Schalkwyk, die woordvoerder van Hartbeespoort, sê die eerste spanne het baie goed teen mekaar opgeweeg.

“Albei spanne het vier drieë gedruk, maar TUT se akkurate stelskopwerk het die verskil gemaak toe dit saak maak. Hartbeespoort het drie doelskoppe en twee strafskoppe pale toe (ʼn totaal van 12 punte) verbrou, teenoor TUT wat slegs twee doelskoppe gemis het.

“Daar was vele uitblinkers aan albei kante. In só ʼn goeie wedstryd voel dit onregverdig om iemand uit te sonder, maar die Harties-buitesenter, Stephan Kekana, was welverdiend die speler van die wedstryd.”

Kekana (twee), Shaun-Michael Wright en Orabile Shima het Hartbeespoort se drieë gedruk. Wright het een verdoel en Chris Ebersohn het met ʼn strafdoel geslaag.

Van Schalkwyk sê Hartbeespoort besef nou deeglik dat dit nie meer die C-liga is nie, waar ʼn paar verbroude skoppe van geen belang is nie.

Die tweede spanne het elk vier drieë gedruk, maar Harties kon net een verdoel.

Hy sê dit was ʼn harde wedstryd en die pap is voorlangs dik aangemaak.

“Die flank Pierre van Zyl en die slot Wihan van Zyl was die uitblinkers voor, hoewel die hele span sy man gestaan het.

Agterlangs het die losskakel, Michau van der Walt, puik vertoon.

Van der Walt (twee), Dylan Dreyer en Rudi du Rand het drieë vir Harties II gedruk, en Branwin Karools het een verdoel.

Vermors

“TUT het sy kanse baie beter benut as Hartbeespoort, wat in die tweede helfte verskeie geleenthede om punte aan te teken met verkeerde opsies en onakkurate aangeewerk in TUT se kwartgebied vermors het,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Hy glo Hartbeespoort se voorspelers het die grondslag vir die derde span se sege van 58-14 oor TUT gelê, waarin nie minder nie as nege drieë gedruk is.

“Die loskopstut, Martin Lubbe, het weer eens ʼn reuse-wedstryd gespeel, en het veral op die verdediging uitgeblink. Hy was die speler van die wedstryd.”

Riaan Steyn, Francois Mostert (twee), Martin Lubbe (twee), JP Viljoen, Hendré Botha, Husky Vorster en Dylan Dreyer het die wenspan se drieë gedruk. Vorster het drie daarvan verdoel.

Van Schalkwyk sê dit was ʼn wegholoorwinning, maar nog ʼn wedstryd waarin Hartbeespoort slegs met drie uit nege doelskoppe, en geen van die twee strafskoppe pale toe kon slaag nie.

“Dis 18 punte wat verbrou is.”

Carlton-B-liga

Eerste spanne

Hartbeespoort 22, TUT 18, Eersterust 15, Tuine 14, Korrektiewe Dienste 14, Baviaanspoort 13, Brits 2, Silver Valke 1, Cullinan 0.

Tweede spanne

KD 20, TUT 20, Harties 17, Tuine 15, Baviaanspoort 12, Eersterust 9, Cullinan 5, Brits 3, Silver Valke 1.

Derde spanne

Harties 18, Cullinan 14, Tuine 11, KD 10, Baviaanspoort 10, TUT 8, Brits 6, Silver Valke 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.