Tukkies, houer van die Suid-Afrikaanse universiteite se Varsitybeker, het Vrydag in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-A-liga op sy baadjie gekry.
Die Naka Bulle het die studente met 22-18 geklop (rustyd 15-10), die tweede keer vanjaar dat hulle met die beste studentespan in die land klaarspeel.
In nog ʼn wedstryd in die reeks het Dragons weer deurgeloop toe Quins-Bobbies-rugby (QBR) hom met 59-12 oorrompel het.
♦ Buks Burger, Naka se klubbestuurder, sê maklik was die sege oor Tukkies nie.
“Dit was ʼn moordende harde wedstryd wat na enige kant toe kon gaan.
“Naka se dodelike verdediging, en die besef dat hy die wedstryd moes wen om in die Carltonwedloop te bly, het tot die span se sukses bygedra.”
Burger sê dis die eerste keer in Naka se geskiedenis dat hy daarin kon slaag om Tukkies twee keer in dieselfde seisoen te klop, “en dit spreek boekdele”.
Hy sê daar lê egter nog ʼn steil opdraand vir Naka voor, eerdat hy vir die uitspeelrondes kan in aanmerking kom, en dit begin sommer Donderdag teen die omgekrapte span van QBR.
“Naka se drieë is gedruk deur Craig Elskie, Marcel Human en die skrumskakel Etienne Storm, wat later vleuel gaan speel, en hom in dié ongewone posisie heel goed van sy taak gekwyt het.
“Die span het nietemin as ʼn eenheid goed vertoon.
“Jean Grobler het met twee doelskoppe en `n strafdoel geslaag, maar moes ná ʼn goeie begin ongelukkig die veld weens ʼn dyspierbesering verlaat,” het Burger Pale Toe! laat weet.
Ander uitslae –
Carlton-A-liga
Tweede spanne
QBR 53, Dragons 10; Fezelas (UP) 38, Naka Bulle 27.
Derde spanne
QBR 24, Dragons 12; Naka Bulle 33, Pumas (UP) 17.
Onder 21-spanne
Naka Bulle 61, Impala 0.
Onder 20-spanne
Naka Bulle 70, Impala 0.