BBRU-liga: wipplankryery duur voort

Die Naka Bulle se troefkaart-agttal maak gereed vir `n skrum teen Centurion. Die haker is Christoff Craill, die loskopstut en kaptein, Sylvester Booysen, die slotte Juan Van der Westhuizen (wit sweetband) en Ramiro Alzogaray (`n Argentyn wat sedert verlede jaar vir die klub speel) en die flank Sibongile Njomba. (Foto: Johanna de Vos).

Die Naka Bulle se troefkaart-agttal maak gereed vir `n skrum teen Centurion. Die haker is Christoff Craill, die loskopstut en kaptein, Sylvester Booysen, die slotte Juan Van der Westhuizen (wit sweetband) en Ramiro Alzogaray (`n Argentyn wat sedert verlede jaar vir die klub speel) en die flank Sibongile Njomba. (Foto: Johanna de Vos).

Die wipplankryery in die Blou Bulle se uiters mededingende Carltonliga A duur voort met die vierde voorloper in soveel weke wat sy kleim Saterdag afgesteek het.

Die Naka Bulle het met `n onverwagse groot sege van 34-0 (rustyd 13-0) oor Centurion weer die voortou geneem nadat hy dit aan Rustenburg Impala afgestaan het, wat op sy beurt deur Centurion onttroon is.

Die nuweling in die liga, die Dragons van Pretoria-Noord, se sege van 26-14 (rustyd 19-7) oor Rustenburg Impala versterk sy kans om met sy eerste probeerslag die halfeindstryd te haal; en die Tukkies se sege van 47-24 (rustyd 18-12) was waarskynlik die doodskoot vir die Bobbies se aanspraak in die liga.

Met Naka wat 29 ligapunte het, Centurion 28, Impala en die Tukkies albei 26 en die Dragons 23 stuur die rondomtalie op `n uiters spannende einde af. Polisie het 14 en Harlequins ses.

Buks Burger, die klubbestuurder van Naka, laat weet die span se sege het nie maklik gekom nie, en Centurion se besluit om slegs twee van die horde strafskoppe wat hy gekry het pale toe te mik, was waarskynlik `n fout.

“Centurion was duidelik daarop uit om die wedstryd met drieë te wen, maar die manne van die Moot se verdediging was rotsvas.

“Hulle het by meer as een geleentheid verdediging in aanval omskep en sodoende punte aangeteken,” sê Burger.

“Die vaste skrums is deur Naka oorheers, desnieteenstaande die feit dat hy in hierdie afdeling erg gestraf is. As die skeidsregter reg was, sal Naka se afrigters gewis meer aandag  hieraan moet verleen aangesien die mededinging strawwer raak en strafskoppe beperk moet word.”

Hy sê Naka sal intussen asem ophou en hoop en vertrou dat die beserings wat Robin Goliath en Dirk Dippenaar genoop het om die speelveld te verlaat, nie te ernstig is nie.

“Hul bydrae in die agterlyn word hoog geskat en hopelik sal hulle gereed wees om Saterdag teen die Dragons uit te draf.

“Voorlangs het die vaskop Kyle Pieterse se naam gereeld opgeduik vir sy puik skrumwerk, maar ook vir die wyse waarop hy balle in die vastelos bemeester het en vir sy puik verdediging in en om die losgemale.

“Saam met hom het Sylverster Booysen (loskop) en die haker, Christoff Crail, uitmuntend vertoon. Die spel van die slot Juan van der Westhuizen en die flank Sibongile Njomba was ook puik gewees. Njomba, wat van `n besering herstel het, is besig om sy  beste vorm te herwin.”

Burger sê die losskakel, Jean Grobler, het uitmuntend vertoon en is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Aya Mavuso (heelagter) het eweneens skitterend vertoon en twee puik drieë gedruk. Hopelik het hy nou heeltemal van sy handbesering  herstel.

“Naka se ander twee drieë is deur JP Alberts (agsteman) en Brendan O’Donoghue (plaasvervanger) aangeteken. Grobler het met vier doelskoppe en twee strafdoele vir 14 van sy span se punte gesorg.”

Al Naka se ander spanne het ook gewen: die tweede 25-17, die derde 29-22, die o.21 27-10 en die o.20 76-3.

dragonsBetreffende die Dragons se oorwinning van 26-14 oor Impala, sê Martin Vlok, die wenspan se klubbestuurder, albei spanne het puik gespeel en dit was uit die staanspoor `n baie harde wedstryd.

“Die Dragons moes kwaai spook om die aanslag van Impala se agttal teen te werk. Impala het in die eerste helfte goed geskrum, maar sy slag in die tweede helfte verloor en die Dragons se agttal se fiksheid en kondisionering het hom in staat gestel om sy stempel af te druk.

“Die Dragons se agterlyn het rotsvas verdedig en min deurkomkans aan Impala gebied. Die Rustenburgers is telkemale in hul spore gestuit.”

Vlok berig die wenspan se eerste drie het gekom van goeie balbesit van die voorspelers af en merkwaardige kommunikasie tussen die losskakel, Marnus van Rensburg, en die senter Dirco Smuts en laasgenoemde het `n besonderse drie gaan druk.

“Van Rensburg het sy gebruiklike hoë spelpeil gehandhaaf en onder meer met twee drieë uitgemunt. Hy het Impala deurgaans op die agtervoet gehou met sy reusekantlynskoppe en die swaar voorhoede gereeld kop onderstebo vir die lynstane laat omdraai.

“In die tweede helfte het die Dragons-voorspelers ook beheer in die lynstane en losgemale oorgeneem en sekure balbesit aan die agterlyn besorg, wat die bal meermale oor die voordeellyn gevat het.”

Hy sê Impala het gou besef dat hy sy spelpeil sal moet lig om in die wedstryd te volhard omdat Dragons alle fassette begin oorheers het, en die stryd het des te hewiger geraak.

Van Rensburg was welverdiend die speler van die wedstryd met die twee uitmuntende drieë wat hy gedruk en die algmene spel wat hy gelewer het. Sy tien drieë dusver in die reeks is dubbeld soveel as wat enige ander speler kon druk.

Robey Leibrandt het die Dragons se ander drie gedruk en Emilio Duvenhage het drie van die vier verdoel.

Vlok sê ook in die wedstryd tussen die tweede spanne het Impala se voorosse aanvanklik oorheers, maar gaandeweg die knie voor die Dragons gebuig, wat 29-11 gewen het.

Die Dragons-losskakel, Francois Nel, het sy span met drie strafdoele en `n skepdoel in `n drielose eerste helfte12-6 laat voorloop.

Weereens was dit fiksheid en kondisionering wat ná die hervatting die verskil gemaak het en die senter Visscher Strydom het twee driee en die kaptein, Jaco Jacobs, een gedruk. Die plaasvervanger-vleuel Hansie Rossouw het met `n doelskop geslaag.

Tussen die uitblinkers aan Dragons se kant was Jacobs en Nel, en die flank Patrick Mathe is as die speler van die wedstryd aangewys.

Wat die derde spanne betref, laat weet Vlok, die Dragons se voor- en agterspelers het goed gekombineer  en “soos `n trop wolwe op Impala toegesak” in `n wedstryd met onbetwiste skrums omdat die Rustenburgers nie genoeg voorryspesialiste gehad het nie.

Dragons het 45-7 gewen, en Matthew Clark (regtervleuel) was die grootste uitblinker op die aanval sowel as die verdediging.

Die Dragons se o.21-span het tien drieë gedruk en 64-0 gewen, maar ondanks sy oorheersing reken Vlok daar is nog heelwat skaafwerk vir die oorblywende wedstryde nodig.

“Die voorspelers se kragspel in die vaste fasette en losgemale het volop skoon en goeie balbesit aan die agterlyn besorg en Impala het vroeg reeds krake getoon, wat deur die Dragons uitgebuit is.

“Die span het soos tiere verdedig en in sy tweede opeenvolgende wedstryd geen drie afgestaan nie.”

Jason Swanepoel (regtervleuel) se hoë werkverrigting in die algemeen het hom die aanwysing as speler van die wedstryd besorg.

Vlok sê goeie lynstaanbesit en doeltreffende dryfmaalbewegings het die o.20-span gehelp om `n begeesterde Impala 17-10 te klop.

Dawid Moolman was die speler van die wedstryd met sy kraglopies en goeie verdediging.

Ander uitslae –

Tweede spanne: Fezelas (UP) 39, Polisie 12.

Derde spanne: Pumas (UP) 19, Polisie 10.

O.21-spanne: Tuks-Jongspan 69, Polisie 0.

O.20-spanne: Tukkies 67, Polisie 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.