BBRU-ligas: Twee nuwelinge in Carltonreeks

blou-bulle-logoTwee nuwe klubs speel vanjaar in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga.

Verlede jaar se wenner van die Reserweliga, Dragons van Pretoria-Noord, is tot die senior liga bevorder; en Rustenburg Impala, `n Luiperds-klub en `n gewese wenner van die oop klubs se nasionale reeks om die Gemeenskapsbeker, word by die reeks ingesluit al kan hy nie die beker wen nie.

Oostelike Eagles is na die Reserweliga afgeskuif.

Die ou Rustenburg-klub het jare gelede, toe daardie geweste nog deel van die destydse Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU) gevorm het, ook in die Carltonliga gespeel.

Impala het hom verlede jaar tot die BBRU gewend omdat hy heeltemal te sterk vir die Luiperds-klubliga is en die Goue Leeus, waar hy `n jaar lank `n tuiste gevind het, nie `n oplossing gebied het nie, onder meer omdat dit te ver was.

Die BBRU-proefneming met die Platinumliga, wat Impala ingesluit het, het nie in alle opsigte geslaag nie omdat verskeie Pretoriase klubs daaraan onttrek het. Wat krag teen krag betref, was dit egter `n klinkende sukses en het die vier oorblywende spanne baie goed teen mekaar opgeweeg.

Met die insluiting van die klub in die Carltonliga beteken dit al die klubs sal verplig wees om teen Impala te speel – of hulle sal punte afstaan wat hul plek op die punteleer nadelig sal beïnvloed.

Die Rustenburgse klub se teenwoordigheid in die reeks behoort die mededingendheid van die Carltonliga aansienlik op te skerp.

In teenstelling met die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks waar `n ander superklub van die Luiperds, die NWU Pukke, reeds jare lank die beker kan wen – en dit verskeie kere reeds reggekry het – deins die konserwatiewe Pretoriase klubs nog terug van die gedagte dat `n “buitestaander” die gesogte beker kan wen.

Dit was dalk makliker deur die Leeus se klubs aanvaar omdat die Luiperds deel van hul Superfranchise was. Een jaar het die Pukke en Impala selfs in die eindstryd teen mekaar gespeel en het die huidige hoof- uitvoerende beampte van die BBRU, Eugene Hare, destyds in dieselfde hoedanigheid by die Luiperds, die trofee oorhandig!

Die Goue Leeus glo die feit dat die Potchefstroomse studente die Pirates-beker kan wen, het grootliks tot die verbetering van klubrugby in dié bond bygedra.

Dis moeilik om die glo dat `n soortgelyke bedeling in Pretoria nie eweneens `n sterker inspuitng vir die BBRU-liga sal inhou nie.

♦ Die Carltonliga skop op 9 April af, met Impala wat met die intrapslag die BBRU-kampioen, die Tukkies, die stryd aansê.

In die ander wedstryde op die eerste dag speel Centurion teen die ander nuweling, Dragons; Pretoria Polisie teen die Tshwane-universiteit vir Tegnologie (TUT); en die Naka Bulle teen Harlequins.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.