BBRU: Quins vat Polisie vas; Naka neem voortou

Gaybrin Smith (regs), die voorste puntemaker in die Cartonliga A, en sy Centurionse spanmaat Stanley Twiname. (Foto: Johanna de Vos)

Gaybrin Smith (regs), die voorste puntemaker in die Cartonliga A, en sy Centurionse spanmaat Stanley Twiname. (Foto: Johanna de Vos)

Die Blou Bulle se Carltonliga A raak al hoe strawwer met Harlequins wat Pretoria Polisie Saterdag deeglik vasgevat het, en die Naka Bulle wat die leiding by Rustenburg Impala oorgeneem het.

Johan Kluyts, `n woordvoerder van Polisie – en iemand wat Carltonrugby gespeel het toe dié liga nog van die Springbokke en provinsiale spelers gewemel het, sê die wedstryd wat Polisie 14-13 gewen het, het `n mens sommer na die ou Carltonwedstryde van weleer laat verlang.

“Dit was hard en genadeloos en die uitslag was tot met die eindfluitjie in die weegskaal.

“Daar was wel reg teen die einde `n ernstige besering aan Quins kant, maar bewerings dat die wedstryd vroeg stopgesit is, is onwaar.”

Kluyts sê Quins gaan nog vanjaar sy stem dik maak en dis duidelik dat sy groot oorwinning oor Centurion geen gelukskoot was nie.

“Quins het in die laaste minute net-net `n strafskop na die pale gemis.

“Wat hier gebeur, is goed vir klubrugby en dis duidelik dat die hoofafrigter, Gert  Mulder, sy huiswerk goed doen.

“Hoewel Quins in die skrums swaar gekry het, het hulle aanvanklik baie van Polisie se lynstane ontwrig,” het Kluyts aan Pale Toe! gesê.

pretoriapolisie“Polisie moet geloof word vir sy veggees in die laaste tien minute toe hy met 14 spelers moes klaarkom. Die geel kaart was regverdig, maar daar was geen opset deur die Polisiespeler nie. Die reëls is egter toegepas soos dit hoort.

“Die Bobbies se grootste probleem bly dat hulle te veel balle in kontak verloor, en dat te veel spelers daardie eksta paar meter wil hardloop voor hulle uitgee. Dit veroorsaak groot leemtes by die afbreekpunte.”

Hy sê vanjaar se Carltonreeks is een van die interressantste in jare en dis ook net `n kwessie van tyd voor Tukkies homself gaan regruk.

“Geen span is meer `n gunsteling nie.”

♦ Gert Mulder, Quins se rugbydirekteur en hoofafrigter, sê `n goeie vriend van hom het ná die wedstryd per SMS laat weet ”dit was amper”, en hoewel amper nie goed genoeg was nie, bestempel hy die wedstryd as “kliphard” en van “epiese afmetings”.

Hy sê albei spanne het uit die staanspoor aangedui dat hulle daar is om rugby te speel, en die wedstryd het deurentyd in ’n goeie gees plaasgevind.

harlequins“Polisie was ongelooflik goed op die verdediging en het hul doellyn rotsvas verdedig. Deurkomkans was bitter min en albei spanne kon net daarin slaag om in die eerste helfte die doellyn `n enkele keer oor te steek.

“Die Bobbies bly `n span van gehalte en sal gewis vanjaar moeilik geklop word.”

Mulder spreek sy trots uit op die Quins-manne wat met karakter en ywer hul beste vir die trui gegee het.

“Dit blyk dat die harde werk wat elke speler op die oefenveld insit nou vrugte begin afwerp. Ons besef dat dit nie makliker word nie en dat ons vir elke wedstryd opnuut moet fokus om ons beste te lewer.

“Aan positiewe gesindheid en gesonde werketiek is daar nie `n tekort nie. Ons het `n einddoel in die oog en glo ons is tans sterk op pad om dit te bereik.

“Daar heers `n aansteeklike, gesonde en positiewe gees by die klub.”

Hy sê die klub is dankbaar vir spelers wat ongelooflik aanpasbaar is geweldige sterk karakter gewys het aangesien ons beginspan-losskakel, Jaques Petzer-Moore, as gevolg van `n asmaaanval voor die wedstryd van die bank af moes speel, en soos die noodlot dit wou hê hy sy enkel in die laaste minuut van die wedstryd gebreek het.

Petzer-Moore is intussen geopereer.

Mulder sê harde werk lê vandeesweek voor met die oog op die kragmeting teen Rustenburg Impala. Daarna moet Quins `n Tukkiespan aandurf waarmee ook rekening as een van die gunstelinge gehou moet word.

Wiets Botes was Quins se speler van die wedstryd.

Gerhard du Preez het Polisie se drie gedruk en Morné Hugo het met drie strafdoele geslaag.

Vir Quins het Johan Grobler gedruk. Paul Walters het dit verdoel en twee strafdoele oorgeklits.

♦ Ben Eybers, die voorsitter van Quins, voeg by dat die kragmetings tussen die tweede en derde spanne eweneens hard was. Polisie II het 17-13 en Quins III 23-10 gewen.

“Dit is in belang van klubrugby om drie senior spanne te bedryf en al twee dié klubs slaag baie goed daarin.”

naka-logo♦ Naka Bulle het die Dragons ná `n taai stryd 30-15 geklop.

Buks Burger, die klubbestuurder van Naka, sê die Dragons het  vinnig twee goeie drieë gedruk om die manne van die Moot wakker te skud, en hulle (Naka) het algaande die meeste fasette van die spel begin oorheers.

“Veral in die skrums en lynstane was dit die Bulle se agttal wat die beheer oorgeneem het.

“Hier moet die name van Adriaan Brits (slot), Lawrence Cleminson (vaskopstut) en die flank Branley Odendaal genoem word. Brits was die speler van die wedstryd.

“Agterlangs het  Alec Mhlanga soos gewoonlik puik vertoon, terwyl Aya Mavuso, wat bestendig was, op sy 21ste verjaardag met `n mooi drie beloon is.”

Burger sê Robin Goliath het twee keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Ignick Windvogel ná n puik oorstootskrum deur die voorspelers gedruk het.

“Jean Grobler, die klein losskakel met die groot hart, het met twee doel- en twee strafskoppe geslaag.”

Inmiddels herstel Naka se kaptein, Sylvester Booysen, goed van sy skielike operasie, en hy hoop om teen Maandag te begin oefen.

Naka speel aanstaande Saterdag teen Polisie in Groenkloof, en Burger sê ongeag Polisie se vertonings die afgelope twee weke, bly hy `n gedugte teenstaander wat nie onderskat durf word nie.

♦ Gaybrin Smith van Centurion is met 63 tans die voorste puntemaker in die reeks, gevolg deur Morné Hugo van Polisie met 39 en Emilio Duvenhage van die Tukkies met 38.

Justin Wheeler van Impala en Robin Goliath van Naka het elk vier drieë gedruk.

♦ Dragons se tweede en o.21-span is voor in hul afdelings, Quins se derde in sy afdeling en Naka in die o.20-afdeling.

Ander uitslae –

Eerste spanne: Centurion 18, Tukkies 15.

Tweede spanne: Centurion 27, Fezelas (UP) 20; Dragons 24, Naka 20;

Derde spanne: Pumas (UP) 48, Centurion 17; Dragons 33, Naka  26;

O.21-spanne: Tuks-Jongspan 54, Centurion 14; Dragons 23, Naka 19; Polisie 54, Quins 14.

O.20-spanne: Tukkies 13, Centurion 6; Naka 55, Dragons 0; Quins 36, Polisie 7.

tuine-grizzlies-logoCarltonliga B

♦ Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se eerste en tweede span is tans die voorlopers in hul afdelings in die Carltonliga B.

Noordelikes se eerste span blaas in hul nek; en wat die tweede spanne betref, het Brits en Tuine ewe veel ligapunte as TUT. `n Beter batige punteverskil plaas die studente aan die bopunt van die punteleer.

Wat die derde spanne betref, loop Cullinan voor met Tuine tweede.

♦ Jaco Olivier, die klubbestuurder van Tuine, laat weet Noordelikes het die Grizzlies 16-12 geklop in `n naelbytwedstryd waarin Tuine tot in die 70ste minuut voorgeloop het.

Die Grizzlies se tweede span het 25-17 en die derde 97-0 gewen.

Carltonliga C

♦ Albei Hartbeespoort se spanne is voor in hul afdelings. Tswaing is tweede tussen die eerste spanne en Westelikes tussen die derde spanne.

Opgesomde puntelere –

Carltonliga A

Eerste spanne

Naka Bulle 17, Rustenburg Impala 15, Centurion 14, Polisie 10, Dragons 8, Harlequins 6, Tukkies 5.

Tweede spanne

Dragons 19, Polisie 16, Naka 16, Impala 12, Centurion 12, Tukkies 7, Harlequins 1.

Derde spanne

Quins 17, Dragons 15, Naka 12, Polisie 10, Tukkies 10, Impala 5, Centurion 4.

O.21-spanne

Dragons 19, Tukkies 18, Naka 16, Centurion 11, Polisie 9, Quins 0, Impala 8.

O.20-spanne

Naka 20, Tukkies 15, TUT 13, Dragons 13, Impala 12, Quins 11, Centurion 10, Polisie 0.

Carltonliga B

Eerste spanne

TUT 19, Noordelikes 18, Korrektiewe Dienste 15, Cullinan 12, Tuine 10, Silver Valke 10, Eersterust 9, Brits 3, Atteridgeville 1.

Tweede spanne

TUT 14, Brits 14, Tuine 14, Silver Valke 13, KD 10, Noordelikes 10, Cullinan 10, Eersterust 7, Atteridgeville 0.

Derde spanne

Cullinan 19, Tuine 16, KD 11, Brits 10, KD-oumanspan 10, Atteridgeville 10, TUT (SMU) 9, Silver Valke 9, Noordelikes 1.

Carltonliga C

Eerste spanne

Hartbeespoort 25, Tswaing 15, Transnet Parke 15, Bronkhorstspruit 10, Westelikes 10, Soshanguve 5, Militêr 4, Stanza Bopape 1.

Tweede spanne

Hartbeespoort 25, Westelikes 15, Transnet Parke 13, Soshanguve 5, Militêr 5, Tswaing 4, Stanza Bopape 0, Bronkhorstspruit 0, Mamelodi/Nellmapius 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.