BBRU-rugby: dis D-dag vir Pretoria se Bobbies

pretoriapolisieWoensdag is D-dag vir Pretoria Polisie in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga A.

Die spartelende Bobbies, tweede laaste in die reeks, speel teen Harlequins, die agteros, en selfs nie die getrouste Bloedbobbie sal sommer van sy pensioengeld op die span verwed nie.

Die span in die beroemde ougoud en blou streeptruie was verlede jaar nog tussen die vyf beste oop klubs in die land (hy het die Plaatafdeling van die reeks om die Gemeenskapsbeker gewen), maar vaar nou selfs swakker as in die jare tagtig toe landwye politieke onrus die polisiemanne van die rugbyveld af gehou het.

Hoe die span binne die loop van `n jaar dermate kon verswak, duisel die verstand en dis ooglopend dat daar groot fout in die klub moet wees.

Toeskouers gesels lank al oor die beeld wat die span op die veld skep dat iets met die spangees haper.

Dis `n ope geheim dat van die ouer garde allermins gediend is met die loop van sake by die klub. Vrae word veral oor toewyding en lojaliteit gevra.

Die Bobbies sal die hand baie diep in eie boesem moet steek en as dit verreikende regstellende maatreëls verg, moet daarvan nie teruggedeins word nie.

Sagte heelmeesters maak stinkende wonde, lui die spreekwoord, en as die skalpel in belang van die klub ingelê moet word, moet dit gedoen word.

Soos sake nou aangaan, kan Polisie se deelname aan die nasionale reeks om die Goue Beker `n verleentheid word, nie net vir die klub nie, maar vir die BBRU, wie se verteenwoordiger hy in die reeks is.

Uit dié oogpunt sal dit selfs nie onvanpas wees nie as die bond ingryp om sake te help beredder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Dis Baie stil vanuit mpumalanga se premier liga war nuus aanbetref. Doen n bietjie navorsing Oor mpumalanga se gold cup kwalifiserende span. Kon tot dusver net Een Uit 6 wen. Die vroë kwalifikasie sisteem KAn Ons reeds berou. Wat is die meriete? Laat die Nuwe wenners deurgaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.