BBRU se Carlton-B-wenner wil vlerke wyer sprei

Claude Johannes en Christo Lategan – in Blou Bulle se amateurspan.

Claude Johannes en Christo Lategan – in Blou Bulle se amateurspan.

Die nuwe wenner van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carltonliga B wil sy vlerke ook na Limpopo en Mpumalanga sprei.

Die klub se voorsitter, Neels van Heerden, sê dis sy droom dat onderouderdomspanne van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se kampusse op Polokwane (Pietersburg), Mbombela (Nelspruit) en Emalahleni (Witbank) by van die sterker klubspanne op dié plekke inskakel.

Gesien die mate waarin afgeleë klubs sukkel om sulke spanne in stand te hou, behoort Van Heerden nie te sukkel om `n simpatieke oor of twee, drie te vind nie.

Hy sê TUT beskou Limpopo en Mpumalanga noodwendig as voedergebiede, en rugbystrukture moet eenvoudig so gou doenlik by dié kampusse gevestig word.

“Die welslae van TUT I en II sal ons hopelik in staat stel om meer geld te bekom sodat ons meer beurse aan belowende rugbyspelers kan gee, veral spelers uit die Limpopo Blou Bulle, Boland en Grens, Die Blou Bulle het onlangs vennootskappe met laasgenoemde twee gesluit.

“Ons gaan in 2017 ook baie nouer bande wil smee met skole in Tshwane wat goeie rugbyspelers oplewer, maar waarvan die talent verlore gaan omdat hulle nie in die visiere van die groot universiteite se talentjagters kom nie.”

Van Heerden sê TUT se rugbybegroting is minder as `n tiende van wat groter universiteite beskikbaar het. “TUT se huidige finansies laat ons nie toe om met vyf spanne in die Carltonliga A mee te ding nie, en ons gaan minstens oor die volgende drie jaar in die Carltonliga B nesskrop.”

Hy sê die groot meerderheid van TUT I se spelers is nog o.21 en sal weer in 2017 in die Varsityskild-span ingesluit word.

“Terloops, TUT sal in 2017 die enigste universiteit uit `n binnelandse provinsie wees wat in die skildafdeling deelneem. Ons teenstaanders sal die Universiteit van KwaZulu-Natal, Fort Hare, Walter Sisulu, Rhodes, die Universiteit van Wes-Kaapland en die Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie wees.

“Wat getalle betref, lê die talent in die Oos- en Wes-Kaap.”

Behalwe sy sukses in die BBRU-ligas, het TUT ook twee spelers in die BBRU se amateurspan wat van Maandag af in Alberton aan die Noordelike Amateur- Provinsiale Kampioenskap deelneem.

Die kaptein en slot Claude Johannes het die span vanjaar die derde keer gehaal, en saam met hom is Christo Lategan (haker/loskop) vir die span gekies.

TUT hoop ook om spelers in die Blou Bulle-amateurs se B-span te kry wat in September op Lichtenburg teen `n soortgelyke span van die Luiperds kragte meet.

Van Heerden meld dat TUT `n groot bydrae tot transformasie in die bond lewer. TUT I het Saterdag 12 spelers van kleur in sy groep van 22 gehad, en TUT II 15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.