BBRU stel strawwe Carltonreeks in vooruitsig

Die nuwe trui waarmee QBR Swart aan die Carltonliga A sal deelneem.

Die nuwe trui waarmee QBR Swart aan die Carltonliga A sal deelneem.

`n Strawwe Carltonreeks word weer vanjaar deur die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) in die vooruitsig gestel.

Eugene Hare, die hoof- uitvoerende beampte, het aan Pale Toe! gesê die reeks begin ná die Paasnaweek, en hy sien uit na `n nuwe jaar wat nuwe uitdagings bring.

Ses klubs speel oor `n dubbele ronde in die reeks en al die eindstryde (A, B en C) sal dieselfde Saterdag op Loftus Versfeld uitgespook word.

 Die Carltonliga A was verlede jaar reeds weer uiters mededingend en die hoop het begin opvlam dat dit van sy vervloeë glorie kan herwin.

Veral twee faktore beloof om die mededinging vanjaar selfs verder op te skerp.

Die Goue Bekerkampioen, Rustenburg Impala (Luiperds), kan vanjaar die gesogte Carltonbeker wen – die eerste keer sedert hy die afgelope twee seisoene saam met die Blou Bulle se senior klubs speel, dat hy daarvoor kwalifiseer.

Die Blou Bul-klubs wat dusver jaloers oor die beker gewaak het, sal dus moet vinger trek indien hulle die beker in Pretoria wil hou.

Die samesmelting van twee van die bond se oudste oorblywende klubs, Harlequins en Pretoria Polisie, is die ander faktor wat daarvoor behoort te sorg dat die uitslag van geen enkele wedstryd in die senior reeks vooraf voorspel kan word nie.

Die nuwe klub, Quins-Bobbies-rugby (QBR), beskik oor `n sterk kern spelers, veral met Polisie wat die afgelope drie jaar `n krag in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker was.

Die nuwe truie is `n samestelling van die Quins- en Bobbiestruie van weleer en dra albei se embleme.

QBR Swart (die eerste span) speel met swart skouerstukke, QBR Rooi (die tweede span) met rooi skouerstukke, en die onderouderdomspanne met groen skouerstukke.

Centurion, die verdedigende kampioen, die Naka Bulle, verlede jaar se naaswenner, die Tukkies en Dragons is die ander deelnemers aan die topliga.

 QBR se rugbydirekteur, Gert Mulder, sê die nuwe klub is geskoei op die ryke tradisie van Quins (sedert 1903) en Polisie (sedert 1922), en die uitnemende internasionale Quins-“handelsmerk”; dit bied afrigting en kondisionering van `n hoë gehalte asook wêreldwye geleenthede wat sowel die vyftienmanspel as sewesrugby betref; en het puik geriewe wat `n gesonde gesinsatmosfeer skep.

Mulder self het 30 jaar ervaring as afrigter, en brei die Blou Bulle se amateurspan. Hy word by QBR onder meer deur die gewese provinsiale speler Nico Luus, en die direkteur van die klub se All Stars-program, Ludwiche van Deventer, bygestaan.

 Ondertoe in die BBRU-ligas is Hartbeespoort tot die B-afdeling van die liga bevorder, en Atteridgeville is na die C-afdeling afgeskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.