Europese- en ook Superspanne by Mauritius-tienetoernooi

Heyneke Meyer, toernooibestuurder (Foto: Twitter)

ʼn Eiesoortige rugbykarnaval skop Saterdag in Mauritius af wanneer die Beachcomber se Wêreld-klubtiene ʼn ander aantrekkingskrag aan rugby as sportkode gee.

Die Wêreld-klubtiene is ʼn agtspan-toernooi met tien spelers per span en is reeds in Suid-Afrika in veral Kaapstad en in mindere mate in Pretoria gewild.

Vanjaar se spanne in Mauritius sluit die Cheetahs, Western Force, Africa Pacific Dragons, Londense Harlequins, Brumbies, die Blou Bulle,  ʼn gekombineerde Franse span die Pyrenees, en ook die Kubota Spears van Japan in.

Dit is vanjaar die derde weergawe van die toernooi.

Daar gaan geen tekort aan van Suid-Afrika se voorste spelers en afrigters in Mauritius wees nie. Heyneke Meyer is die toernooibestuurder terwyl Victor Matfield en sy ou speelmaat, Jaco van der Westhuizen, die Africa Pacific Dragons sal brei.

Dit is egter nie waar die Suid-Afrikaanse invloed stop nie.

Die Suid-Afrikaner Dave Wessels rig die verdedigende kampioen, die Western Force af en Frans Ludeke is aan die stuur van Japan se Kubota Spears.

Verder sal alle oë op Harlequins se Psalm Wooching wees. Dié 23-jarige voormalige NFL-speler van die Washington Huskies gaan gewis ʼn trekpleister wees.

Dieselfde geld vir die Cheetahs se Rosko Specman wat onlangs gehelp het om die Blitsbokke as wêreldkampioen te kroon. Saam met veterane soos Ryno Benjamin en opwindende jong spelers soos Luther Obi en William Smal-Smith is die Cheetahs een van die mees gebalanseerde spanne in die toernooi.

♦  Meyer en Matfield is dit eens dat tiene ʼn groot toekoms het. Dit word terloops al jare voor die Wêreldreeks se sewestoernooi in Hongkong deur spanne van oor die hele wêreld gespeel.

Matfield wys daarop dat, anders as in sewes, daar steeds plek vir stutte en slotte is in hierdie spel waar daar vyf voor- en vyf agterspelers is. Stutte soos Os du Randt en Beast Mtawarira sou nooit sewes kon speel nie, verduidelik hy, maar in tiene sal hulle deel van die spel wees.

“Anders as in vyftienmanrugby, is daar meer plek om te hardloop. Ons sal gewis meer drieë en gehardloop met die bal sien,” meen Matfield.

♦  Rugby in die paradys,  noem die mense die Beachcomber-toernooi – en met die Anjalaystadion as vertoonvenster gaan die Indiese Oseaan se rugbytone krul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.