Beauden Barrett druk vier keer en All Blacks herhaal die loesing

Beauden Barrett draf terug na hy sy vierde drie gedruk het nadat drie van hom twee minute vantevore deur ‘n TV-beslissing “herroep” is. (Foto twitter @AllBlacks)

Dit was nog beter as verlede naweek se loesing wat hulle die Wallabies in Sydney toegedien het toe die All Blacks op tuisbodem weer in die tweede helfte losgetrek het.

Soos tóé was die Wallabies Saterdag op Edenpark ook twee minute voor rustyd nog deeglik in die prentjie met die telling 7 elk. Hulle het sowat 60% van die besit en gebiedsvoordeel gehad, die meeste aanvalswerk gedoen en het ongetwyfeld begin glo híérdie keer is dit hul beurt.

Maar toe kom die All Blacks, druk soos verlede week wéér twee minute voor en ook twee minute ná rustyd en trek weg om die wedstryd in die Rugbykampioenskap met 40-12 te wen, met ses drieë teen twee.

Van die ses het Beauden Barrett self vier keer gaan druk nadat daar ook een van sy “drieë” deur ʼn TV-beslissing omgekeer is.

Barrett se vier drieë en 30 punte is die meeste nog deur ʼn All Black teen die Wallabies.

Met die oorwinning het hulle vanjaar se Bledisloebeker weer gewen met twee oorwinnings en net een wedstryd wat later gespeel word. Dit was ook Nieu-Seeland se 18de opeenvolgende oorwinning teen Australië op Edenpark.

♦ Dit was heerlik om te kyk na ʼn span wat telkens van hul eie doellyn af begin hardloop het, wat altyd iemand byderhand gehad het om die bal verder te voer en dit gedoen het met opsies wat feitlik deurgaans die regte was.

Die hardlopery is hier en daar oordoen wat tot omkeerbesit aan die Wallabies gelei het, maar wat daarvan?

Barrett se drieë is nie op ʼn skinkbord aan hom gegee nie. ʼn Goeie hardlooplyn het tot sy eerste gelei, ʼn binnetoe-systap het sy vierde gebring. Hy was twee keer ook by met skitterende ondersteuning wat die kenmerk van sy en eintlik die hele span se spel was.

Nieu-Seeland se verdediging moet ook nie onderskat word nie. Tot rustyd moes hulle heelwat meer as die Wallabies keer, maar het net 13 persent en die Wallabies meer as 20% van húl duikslae gemis. In die wedstryd as geheel was die All Blacks se mislukte duikslae 15% (25 uit 168) en dié van die Wallabies 26% (42 uit 162).

Kan die All Blacks geklop word? Miskien, maar net miskien. Dan moet die teenstanders vir 80 minute net so toegewyd soos en veel beter as die Wallabies verdedig, drieë met hul besit druk en bewegings vroeg in die kiem smoor.

Hoe dit gedoen moet word, weet nugter …

En die Wallabies? Hul skrum was beter, hulle het aanvanklik weer in die lynstane gesukkel maar darem ook die All Blacks se besit hier ontwrig. Die Aussies se aanvalle was meer gestruktureerd as verlede naweek, en hul ondersteuning beter.

Maar hulle kon net twee keer druk, en die tweede drie is eers in die 55ste minuut gedruk, waarna hulle steeds met 12-28 agter was.

Puntemakers ‒

Nieu-Seeland (14) 40: Drieë: Beauden Barrett, Tom Moody, Liam Squire. Doelskoppe: Beauden Barrett 5.
Australië (7) 12: Drieë: Will Genia, Reece Hodge. Doelskop: Bernard Foley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

Ek hoop ons kan beter teen Nz vaar dit is nie lekker om so te verloor nie

Buffel ·

Deel jou sentiment Hennie maar is bevrees AB’s kan maklik 60+ op die bontebokke sit…..

Anoniem ·

Bokke pasop vir Australië, hulle gaan met mening terugkom !

Snowball ·

Ek sien ‘n trein…..’n GROOT SWART TREIN, hy pyl af op die Bok…die Bok is te lam, hy kan nie beweeg nie…ek sien die Bok, stukkend en verniel, net die trein stoom voort…

Henry ·

AB’s sal waarskynlik hul 2de en 3de keuse spelers geleentheid gee om hul tande op toetsvlak teen ou Rassie se span te sny. Sommer die geleentheid benut om hul haka in te oefen vir die dag wanneer hulle in die 1ste span sou plek kry.

Terselfdertyd kan een van NZ se agtergeblewe dorpies geleentheid kry om nog ‘n vervelige slagting van ou Rassie se span aan te bied. Die groter sentra se mense is laaaankal reeds moeg om nat te reën en koud te kry, terwyl die AB’s besig is om die eens gerespekteerde spanne met die groen truie se ge-bokspringery, te vermorsel.

snik!

Frans C ·

Kyk na die samestelling van die All Blackspan .5 Crusaders in die agt voorspelers.
Senterpaar tot onlangs Crusaders.Die Bokke en Australie se spanne is saamgelapte spanne uit die Superrugbyreeks.
Die Argentyne het die Bokke geklop want hul het met enkele uitsondering netso in die
Superrugbyreeks meegeding en sodoende die nodige samespel ontwikkel.Ons kan nie eers uit een superrugbyspan soos die All Blacks al 5 vaste voorspelers kies nie.
Daar word gedurig ekspirimenteer met kombinasies en as ‘n speler soos Vermuelen nie daar is om rigting te gee nie, val alles voorlangs plat.

Niklaas ·

Ons gaan beslis swaar leef teen beide NZ en Aus spanne. Daar is eintlik nie enige oplossing vir die Bokke en Rassie se situasie nie. Kom ons probeer maar positief bly en hoop vir wonderwerke .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.