Rugbyspanne sal veel eerder in die Wêreldbeker-eindstryd wil speel as in die wedstryd om die derde plek, maar Engeland en Argentinië het vir ʼn aksiebelaaide stryd op die Stade de France gesorg.
Hoewel dit aanvanklik gelyk het of die Rose met die kragmeting sou weghardloop, het die Suid-Amerikaners nie gaan lê nie en hulle het ʼn begeesterde terugvegpoging geloods.
Hulle het die Engelsmanne nie vir ʼn oomblik uitgelos nie en as die wedstryd net ʼn paar minute langer was, sou hulle dalk as die oorwinnaars uit die stryd getree het.
Maar toe Nic Berry op sy eindfluitjie blaas was die telling 26 – 23 in Engeland se guns en ʼn moeë Owen Farrell kon saam met sy spanmaats die sege vier.
Ondank die skare wat hulle gereeld uitgejou het, het Farrell se akkurate stelskopwerk en Ben Earl se puik lopie beteken dat Engeland vroeg in die wedstryd ʼn gemaklike voorsprong van 16 – 3 geniet het.
Die Pumas speel egter met passie en hulle wou met iets tasbaar na Argentinië terugkeer; ʼn bronsmedalje sal mos ook goed in ʼn vertoonkas lyk, of hoe?
Die Suid-Amerikaners het drieë net vóór en ná rustyd gedruk en Emilliano Boffelli se skopkelkiewerk het beteken dat die telbord aan die gang gebly het.
Hulle het 405 m op die aanval teenoor die 288 m van Engeland gevorder, terwyl hulle 34 keer die Rose-verdedigers na lug gegryp het.
Terselfdertyd het hulle ook met meer entoesiasme geskrum en dinge vir hul teenstanders by die afbreekpunte bemoeilik.
Nicholas Sanchez het selfs laat in die wedstryd ʼn kans gehad om sake gelykop te maak, maar hy was nie suksesvol met sy stelskoppoging nie.
Was Engeland gelukkig om dié een te wen?
Seker.
Sou dit lekkerder gewees het as Argentinie gewen het?
Beslis.
Maar die spel van Sam Underhill en Earl was uiteindelik deurslaggewend in die Rose se oorwinning.
- Puntemakers:
Engeland: Drieë: Ben Earl en Theo Dan. Doelskoppe: Owen Farrell (2). Strafskoppe: Farrell (4).
Argentinië: Drieë: Tomas Cubelli en Santiago Carreras. Doelskoppe: Emiliano Boffelli (2). Strafskoppe: Boffelli (2) en Nicholas Sanchez.
