Bejaarde groentjie Bulle se span vir Goue Beker

ʼn Bejaarde groentjie sal die Blou Bulle-rugbyunie vanjaar in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker (GB) verteenwoordig.

Dis ʼn merkwaardige prestasie vir Quins-Bobbies-rugby (QBR) in sy eerste bestaansjaar, hoewel die samestellende klubs – Harlequins en Pretoria Polisie – twee van die oudste klubs in die stad is.

Sy deelname aan die GB-reeks is gegrond op sy eerste plek op die Carlton-A-punteleer ná afloop van die rondomtalie.

Ben Eybers, QBR se voorsitter, het aan Pale Toe! gesê die klub het ʼn driejaarplan met die oog op deelname aan die GB-reeks opgestel, en dit binne die eerste jaar verwesenlik.

“Die sukses is veral toe te skryf aan ʼn goeie administratiewe span, lojale borge, en die afrigtingspan van Gert Mulder, Nico Luus en Ludwiche van Deventer.

“Dis moeilik om sterre uit te sonder, maar Jan-Hendrik Bosman (sewe), Jacques Erasmus (ses), Johan Grobler (vyf), CJ de Villiers, Michael Nienaber, Ian van Deventer en Piet Botha (drie elk) het die meeste van die klub se 47 drieë gedruk.”

Diepte help

“Emile Kaiser was ʼn puik kaptein, en Hendrik van der Nest se hertoetrede tot rugby het aan QBR die ondervinding gegee wat nodig was om die res van die span aan te vuur.

“Jan-Hendrik Bosman se skuif na agsteman het ook vrugte afgewerp.”

Eybers sê QBR Rooi (die klub se tweede span) is ook ʼn gedugte span, wat enige tyd in enige reeks sal kan meeding. Die diepte het baie gehelp.

“In moderne rugby moet ʼn mens jou bronne en vaardighede op en van die veld af verpoel, en kundiges op die regte terreine aanstel.

‘Salute mi Familia’

“Die bestuur binne en buite die vier lyne moet goed omskryf wees sodat almal weet wat hulle moet en nie moet doen nie.

“ʼn Goeie administratiewe span verseker dat ʼn mens aan alles aandag kan gee, en seker maak die spelers is gelukkig.

“ʼn Rugbyklub is soos ʼn familie en ons streef die leuse ‘Salute mi Familia’ (groet my familie) na.”

Eybers sê dis ʼn groot voorreg vir QBR om die BBRU in die GB-reeks te verteenwoordig, en hy sal graag wil toon waarom die Carltonliga as die hardste klubreeks in die land beskou word, en daardeur die trots van die bond en sy ander 25 klubs ontlok.

Hy sê dit gaan ook belangrik vir QBR wees om te presteer aangesien daar sprake is dat die drie topbonde aanstaande jaar elk ʼn tweede span in die reeks kan inskryf.

Eers die Carlton

“QBR het egter nog glad nie aan die GB begin dink nie, want daar wag nog ʼn Carltonbeker om te wen.

“Met die topvyf spanne wat almal ewe veel wedstryde gewen het, kan geen span as gunsteling bestempel word nie.

“Selfs ʼn skeidsregtersbeslissing kan ʼn groot aandeel hê in wie op ʼn bepaalde dag se spel dag in die Carltonreeks wen.”

Eybers sê die groter koste wat GB-deelname meebring, het die klub se plan om ʼn sewesspan na ʼn toernooi in Kenia te stuur deur die mat laat val. Hy stuur wel ʼn sewesspan Lesotho toe.

“Vir aanstaande jaar beplan QBR ʼn sewesakademie, geskoei op die lees van die een in Stellenbosch, en ʼn gimnasium van wêreldklas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.