Belangrike Curriebeker- én Pro14-week vir Cheetahs

Die Vrystaat Cheetahs en die Cheetahs-franchise het oor die volgende tien dae ʼn groot uitdaging wat nie net hul seisoen nie, maar ook hul korttermyntoekoms, sal bepaal.

Die provinsiale span, die Vrystaat Cheetahs, gaan Dinsdag letterlik ʼn rugby-kolk binne met die promosie-relegasie-wedstryd teen die SWD Arende.

Dit is ʼn plek vanwaar dit nie maklik is om terug te keer as jy eers daar land nie. Vra maar vir die destydse Natal, soos die feite hieronder vertel.

Dan word daar oor die volgende twee Saterdae boonop ook nog twee Pro14-wedstryde in die Vrystaat-stadion gespeel met die Cheetahs wat ná ses wedstryde steeds na ʼn eerste oorwinning in hierdie reeks soek.

Die Cheetahs het onderneem om hul sterkste beskikbare span in die Curriebeker-uitspeelwedstryd te kies. Sal dit beteken dat van die Pro14-spelers gebruik word en dat die teenstand teen Cardiff (Saterdag 27 Oktober) en Munster (Saterdag 4 November) ietwat verdun word?

♦ Die Vrystaat, vóór die dae van geldrugby, het eers in die 1970’s werklik ʼn faktor geword. Hulle het in vyf van die ses Curriebeker-eindstryde tussen 1973 en 1978 gespeel en hul eerste titel in 1976 teen die WP gewen.

In 1981 het hulle in die eindstryd op Loftus verloor. Daarna het hulle as ernstige mededingers om die titel, met verloor-eindstryde in 1994 en toe weer 1997, effens “weggeraak”.

Van 2004 tot 2007 was hulle egter as ʼn topspan terug en al vier keer in die eindstryd. Hulle het in 2005 hul eerste titel buite Bloemfontein, teen die Blou Bulle op Loftus, gewen; in 2006 die titel met die Bulle gedeel; en toe in 2007 die Curriebeker in Bloemfontein gewen.

In 2009 is hulle op Loftus in die eindstryd geklop en in 2016 het hulle op die Vrystaat-stadion teen die Blou Bulle die titel gewen.

Die Vrystaat en Vrystaat Cheetahs was egter deur die jare altyd mededingend, en nooit in die posisie dat hulle afgeskuif sou word na die destydse B-afdeling (vandag se Eerste Liga-reeks) nie.

♦ In 1981, toe die Springbokke in Nieu-Seeland was, is die Piesangboere sonder hul kaptein Wynand Claassen en oorsese Bokke na die B-afdeling afgeskuif toe hulle die uitspeelwedstryd teen Oos-Transvaal verloor het.

Hulle kon daarna vier jaar ná mekaar, 1982-’85, nie die promosie-relegasie-wedstryde teen Noord-Vrystaat op dié se harde tuisvelde wen nie. Dit het die Natallers aan hekgeld en ook die lok van spelers gekos wat nie vir ʼn span in die B-afdeling wou speel nie.

Curriebeker-eindstryd uit die B-afdeling

Daar was in hierdie donker Natalse jare darem een ligpunt.

In 1984 het Natal die B-afdeling gewen en weer die uitspeelwedstryde (een gewen, een verloor) teen die Perstruie op punteverskil verloor en in die B-afdeling moes bly.

Maar: hulle het in die eindstryd van die Curriebeker op Nuweland teen die Westelike Provinsie gespeel!

Die ou Sarfu het, as aansporing vir die B-afdeling se spanne, bepaal dat die boonste span in die B-afdeling op sy tuisveld teen die tweede span in die A-afdeling moes uitspeel. Onder Claassen het Natal die oorgeruste span van die Vrystaat op Kingspark kafgedraf.

In die eindstryd op Nuweland ‒ slegs hul tweede ná die een in 1956 teen Noord-Transvaal ‒ moes die WP uithaal om met 19-9 te wen.

In 1985 en ook in 1986 was die Natallers steeds in die B-afdeling, waar die velde en die rugby kliphard was, maar die gehalte nie te waffers nie. En wéér kon hulle nie die Noord-Vrystaters onderkry toe hulle om promosie gespeel het nie.

Maar toe is hulle genadiglik uit die relegasie-kolk gehaal toe Sarfu die Curriebeker-stelsel (weer!) verander het en was Natal uiteindelik deur ʼn raadbesluit weer tussen die land se bestes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nico k ·

Ek moet darem kommentaar lewer, al is dit oor dinge wat lank terug verby is, maar baie sport joernaliste het vertel hoe Natal die B afdeling oorheers het, maar net nie die promosie relegasie wedstryd kon wen nie. Dit is natuurlik nie korrek nie. Hulle kon in 5 jaar in die B afdeling slegs 2 keer die afdeling wen, het 2 keer 2de gekom en 1 keer 3de. Wat net bewys dat as jy eers in die B afdeling is, jy jou spelers verloor en daarna nie sommer weer terug kom nie. Natal is soos genoem teruggebring na die A- afdeling op grond van die grootte van hul stadion en nie omdat hulle dit op die veld kon regkry nie. (Maar Vrystaat het self ‘n promosie relegasie wedstryd verloor teen Noord Vrystaat (was dit in 1988?) en moes afskuif B- afdeling toe, maar die Rugby unie het besluit om liewer die A afdeling te vergroot en Vrystaat nie af te skuif nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.