Belangrike Saterdag vir Bulls, Sharks en Stormers

Saterdag se twee Superwedstryde is vir die drie betrokke Suid-Afrikaanse spanne uiters belangrik.

Die Bulls, wat op Loftus teen die Rebels te staan kom (15:05), wil dit drie uit drie maak nadat hulle die Stormers en Sharks geklop het. Hulle is nou tweede op die punteleer van die Suid-Afrikaanse spanne en kan moontlik nog, soos enige van die vyf spanne (insluitende die Jaguares), bo in die SA groep eindig.

Dit is egter nie die Bulls se doelwit nie. Dit gaan Saterdag eerder om aan hulself te bewys dat daar voortgesette groei in hulle spel is, en veral dat hul wisselvalligheid iets van die verlede is.

Die Rebels het vanjaar uitstekend weggespring nadat die oud-Ikeysafrigter Dave Wessels saam met ʼn klomp Force-spelers Melbourne toe getrek het.

Maar, anders as die Bulls wat hul laaste twee wedstryde gewen het, het die Rebels húl laaste twee (teen die Hurricanes en die Jaguares) verloor. Hulle het ook nog nooit – hoewel hulle tot nou toe ʼn veel swakker span was – in Suid-Afrika gewen nie.

In hul poging om as span te groei, sal die Bulls beter wil skrum – soos die Rebels – met meer sukses wil hardloop, minder omkeerbesit afstaan en ook beter by die losskrums vaar.

Spanne –
Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Johnny Kotze, 13 Jesse Kriel, 12 Burger Odendaal (kapt.), 11 Divan Rossouw, Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Marco van Staden, 7 Thembelani Bholi, 6 Roelof Smit, 5 Lood de Jager, 4 RG Snyman, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Lizo Gqoboka, 18 Frans van Wyk, 19 Jason Jenkins, 20 Shaun Adendorff, 21 Andre Warner, 22 Manie Libbok, 23 Duncan Matthews
Rebels
15 Dane Haylett-Petty, 14 Jack Maddocks, 13 Tom English, 12 Reece Hodge, 11 Marika Koroibete, 10 Jack Debreczeni, 9 Michael Ruru, 8 Amanaki Mafi, 7 Angus Cottrell, 6 Ross Haylett-Petty, 5 Adam Coleman (kapt.), 4 Matt Philip, 3 Sam Talakai, 2 Anaru Rangi, 1 Tetera Faulkner. Bank: 16 Jordan Uelese, 17 Fereti Sa’aga, 18 Jermaine Ainsley, 19 Geoff Parling, 20 Richard Hardwick, 21 Harrison Goddard, 22 Billy Meakes, 23 Sefa Naivalu.
Afskop: 15:05 

Sharks v Stormers, Kingspark

Hoewel die Sharks en die Stormers albei, met ʼn wedstryd meer gespeel, op die Bulls se hakke is, is Saterdag (afskop 17:15) se mikpunt vir albei om op Kingspark terug op die wenpad te kom.

In albei die spanne se wedstryde teen die Bulls het hulle goed pakgekry. Daar is by albei spanne en hul afrigters vertwyfeling, en Saterdag moet dit reggestel word.

Vir die Sharks sal verlede week se tuisloesing van 10-40 teen die Bulls nog veel rouer in die geheue lê as dié van die Stormers wat twee weke gelede op Loftus teen alle verwagting in met 23-33 vasgeval het.

Dit is natuurlik ʼn ander kompetisie met ander spanlede, maar die Sharks en die Stormers is die franchise’e van verlede jaar se twee Curriebekerfinaliste wat teen mekaar speel.

Toe het Robert du Preez vir die Westelike Provinsie uitgeblink. Vanjaar, by die Sharks, is sy wisselvalligheid eweredig aan sy voorspelers se spel. Tog sal sy tweestryd met sy opvolger by die Stormers, Damian Willemse, een van die belangstellingspunte wees – en só ook die stryd tussen Wilco Louw, wat in daardie eindstryd baljaar het, maar hierdie keer met Beast Mtawarira te doene kry, wat van sy beste rugby en skrumwerk in jare lewer.

Spanne –
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 Andre Esterhuizen, 11 Makazole Mapimpi, 10 Robert du Preez, 9 Cameron Wright, 8 Dan du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Stephan Lewies, 4 Ruan Botha (kapt.), 3 Thomas du Toit, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Juan Schoeman. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Mzamo Majola, 18 Ross Geldenhuys, 19 Tyler Paul, 20 Jacques Vermeulen, 21 Louis Schreuder, 22 Marius Louw, 23 Lwazi Mvovo
Stormers
15 Dillyn Leyds, 14 Craig Barry, 13 EW Viljoen, 12 Damian De Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Sikhumbuzo Notshe, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Chris van Zyl, 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Scarra Ntubeni, 17 JC Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Kobus van Dyk, 20 Nizaam Carr, 21 Paul de Wet, 22 SP Marais, 23 JJ Engelbrecht.
Afskop: 17:15

Ander wedstryde –

Saterdag (09:35) sal die Crusaders tuis na verwagting met die Sunwolves mors en die Reds tuis stellig pak kry teen die Chiefs (11;45). Die Brumbies speel Sondag (08:05) tuis teen die Jaguares, wat verlede week verras het deur die Rebels in Melbourne te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.