Beleërde Blou Bulle-president bedank

Die beleërde president van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) het luidens berigte uit sy pos by die bond bedank.

Gert Wessels was in die jongste tyd in die spervuur weens aantygings dat hy onregmatig miljoene rande van die bond se geld in die vorm van lenings aan die sukkelende Blou Bulle-maatskappy (BBM) laat oorbetaal het.

Bewerings doen die ronde dat die BBM op die randjie van bankrotskap is, en nie die geld kan terugbetaal nie.

Die Blou Bulle-klubs het Wessels se kop geëis, en het op die punt gestaan om met die volgende komiteevergadering van die BBRU ʼn mosie van wantroue in hom ter tafel te lê.

Die woelinge in die bond se geledere duur geruime tyd, en by die jongste bestuursverkiesing is die meeste van die bond se vise-presidente vervang.

Die Bulls- en die Blou Bulle se swak prestasie op die rugbyveld en beskuldigings van wanbestuur blyk die onderliggende rede te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.