Belowende WP-ster weer op krukkelys

Kade Wolhuter het verlede maand 26 punte in ’n Curriebeker-wedstryd op Loftus Versfeld aangeteken. Foto: GB Jordaan.

Die Westelike Provinsie sal die vlieënde Pumas sonder een van sy belowendste sterre in die Laeveld die stryd moet aansê.

Kade Wolhuter het Dinsdag op sosiale media aangedui dat hy sy regterkantste voorste kruisligament (“ACL”) geskeur het.

ʼn Soortgelyke terugslag het die voormalige Paul Roos-losskakel in 2021 getref, maar toe was dit sy linkerknie wat in die slag gebly het.

Hoewel Wolhuter oor die simmetrie van sy beserings op Instagram geskerts het, gaan hy vir ʼn hele ruk op die kantlyn wees.

“Daar wag ʼn taai nege maande op my, maar ek was al vantevore hierdeur en ek sal weer sterk staan,” het die 21-jarige speler beloof.

Spelers soos Seabelo Senatla, Evan Roos, Leolin Zas en Damian de Allende het hom intussen ook op sosiale media ’n spoedige herstel toegewens.

Die losskakel was ʼn lid van die Groen- en Goud-spanne wat in 2020 op Nuweland slaags was, terwyl hy ook al ʼn paar wedstryde vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel het.

Wolhuter was in die kol met ʼn doelskop en ʼn strafskop in WP se vorige wedstryd teen die Cheetahs. Die Vrystaters het die kragmeting met 26 – 17 in Kaapstad gewen.

Sy ontydige besering beteken dat Jean-Luc du Plessis waarskynlik die Streeptruie se opdraflosskakel vir die voorsienbare toekoms kan wees.

  • Curriebeker-bepalings:

Vrydag:

14:30: Cheetahs teen Haaie

16:30: Pumas teen Westelike Provinsie

Saterdag:

18:30: Blou Bulle teen Leeus

Sondag:

14:00: Griekwas teen Griffons.

 

(Foto: Instagram/Kade Wolhuter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.