Benetton blaas Bulls weg

Foto: Twitter.

Die Bulls het hul swakste vertoning van die jaar vir die eindstryd van die Reënboogbeker teen Benetton gebêre.

Die Italianers het die Pretorianers weggeblaas om die kragmeting op ’n drafstap met 35 – 8 te wen.

’n Mens het vooraf half geweet dat die Bulls gaan sukkel. Hulle is sonder Duane Vermeulen en Morné Steyn. Dit is vreemde toestande en is ’n paar dae regtig genoeg om aan alles gewoond te raak?

Heimlik was mens egter vol vertroue dat nóg ’n trofee sy pad na die Jakarandastad sal vind. Hulle speel dan nie net nou vir Pretoria nie, maar vir die ganse Suid-Afrika se rugbytrots.

Hulle is mos buitendien goed genoeg om met Benetton af te reken, of hoe? Maar een van die lesse wat die verhaal van Dawid en Goliat vir ons geleer het, is om nooit enigiemand te onderskat nie. Veral as hulle vyf seepgladde drieë teen jou kan druk.

Benetton se jong losskakel, Paola Garbisi, het die spel soos ’n wafferse veldmaarskalk dikteer, terwyl die Italianers se agterlyn bitter gevaarlik gelyk het.

Daarteenoor het die Bulls een van rugby se eenvoudigste konsepte vergeet: Wanneer jy ’n magdom foute maak, gaan jy waarskynlik nie met die louere wegstap nie.

Daar was doellose skoppe, ’n geelkaart, ’n lynstaanblaps op hul eie doellyn en aanslane vir Afrika. Trouens, die aanslaansituasie het so handuit geruk dat mens begin wonder het of hulle ooit die beker sou kon vashou as hulle op een of ander geheime manier daarin sou slaag om die kastaiings uit die vuur te krap.

Om ’n lang storie kort te maak: Die Bulls het net geen antwoord vir Benetton se avontuurlustige benadering tot die eindstryd gehad nie.

Die Italiaanse span was net beter. En die Bulls het glad nie soos die span gelyk wat ons in Suid-Afrika gesien het nie.

  • Puntemakers:

Bulls: Drie: Madosh Tambwe. Stafskop: Chris Smith.

Benetton: Drieë: Strafdrie, Monty Ioane, Corniel Els, Michele Lamaro en Edoardo Padovani. Doelskop: Paolo Garbisi. Strafskoppe: Garbisi (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Kyk dit was ‘n patetiese blou bul vertoning. Selfs sonder hul bokke het hul die spelers om te kon gewen het as hul net opgedaag het. Dink op die dag sou ‘n paar goeie SA hoërskool eerste spanne ‘n beter vertoning gelewer het. Die bulle kon nie 2 fases aanmekaar knoop nie, hoë duikslae, swak hantering, verbroude duikslae, doellose skoppe, lynstane verloor, besluitloosheid, last val die bal agter die doelyn. Bulle se groot probleem was balbesit en die wat hul gehad het is doelloos weg gemors…. tog het die bulle dit gemaak tot daar en bo die SA log geeindig.… Lees meer »

Snowball

O weë! Daar kom die Bulle huis toe met die kous oor die kop. Ek het al skoolseuns beter sien speel in die nr 10 trui.

Andre

Alle eer aan Benetton, hulle het gelyk soos ‘n rugbyspan. Die Bulle, ook maar gespeel soos’ n Suid Afrikaanse SBE.

Willempie

Ag hoe lekker was dit nou om te sien hoe die MAGTIGE ??? Blou Bulle verneder word na BLOU NULLE. En nou kom al die verskonings, die klimaatstoestande was nie reg nie, die voorberidingstydperk was te kort en… en… en o ja, twee van die gereelde spelers was nie beskikbaar nie. AG NEE, ‘n span bestaan uit vyftien en nie twee spelers nie. En dan dan is Marcel Coetzee dan nou so ‘n goeie plaasvervanger vir Duane. Arme Marcel kan nie ‘n rugbybal hanteer nie, vang mis met oop doellyn voor hom, kan nie die bal ordentlik aangee nie en… Lees meer »

Harry

Die SA spanne kan baie bly wees hulle moes nie teen die Australiese en New Zeeland spanne speel nie…………