Benetton blaas Bulls weg

Foto: Twitter.

Die Bulls het hul swakste vertoning van die jaar vir die eindstryd van die Reënboogbeker teen Benetton gebêre.

Die Italianers het die Pretorianers weggeblaas om die kragmeting op ’n drafstap met 35 – 8 te wen.

’n Mens het vooraf half geweet dat die Bulls gaan sukkel. Hulle is sonder Duane Vermeulen en Morné Steyn. Dit is vreemde toestande en is ’n paar dae regtig genoeg om aan alles gewoond te raak?

Heimlik was mens egter vol vertroue dat nóg ’n trofee sy pad na die Jakarandastad sal vind. Hulle speel dan nie net nou vir Pretoria nie, maar vir die ganse Suid-Afrika se rugbytrots.

Hulle is mos buitendien goed genoeg om met Benetton af te reken, of hoe? Maar een van die lesse wat die verhaal van Dawid en Goliat vir ons geleer het, is om nooit enigiemand te onderskat nie. Veral as hulle vyf seepgladde drieë teen jou kan druk.

Benetton se jong losskakel, Paola Garbisi, het die spel soos ’n wafferse veldmaarskalk dikteer, terwyl die Italianers se agterlyn bitter gevaarlik gelyk het.

Daarteenoor het die Bulls een van rugby se eenvoudigste konsepte vergeet: Wanneer jy ’n magdom foute maak, gaan jy waarskynlik nie met die louere wegstap nie.

Daar was doellose skoppe, ’n geelkaart, ’n lynstaanblaps op hul eie doellyn en aanslane vir Afrika. Trouens, die aanslaansituasie het so handuit geruk dat mens begin wonder het of hulle ooit die beker sou kon vashou as hulle op een of ander geheime manier daarin sou slaag om die kastaiings uit die vuur te krap.

Om ’n lang storie kort te maak: Die Bulls het net geen antwoord vir Benetton se avontuurlustige benadering tot die eindstryd gehad nie.

Die Italiaanse span was net beter. En die Bulls het glad nie soos die span gelyk wat ons in Suid-Afrika gesien het nie.

  • Puntemakers:

Bulls: Drie: Madosh Tambwe. Stafskop: Chris Smith.

Benetton: Drieë: Strafdrie, Monty Ioane, Corniel Els, Michele Lamaro en Edoardo Padovani. Doelskop: Paolo Garbisi. Strafskoppe: Garbisi (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

MakersMark ·

Kyk dit was ‘n patetiese blou bul vertoning. Selfs sonder hul bokke het hul die spelers om te kon gewen het as hul net opgedaag het. Dink op die dag sou ‘n paar goeie SA hoërskool eerste spanne ‘n beter vertoning gelewer het. Die bulle kon nie 2 fases aanmekaar knoop nie, hoë duikslae, swak hantering, verbroude duikslae, doellose skoppe, lynstane verloor, besluitloosheid, last val die bal agter die doelyn. Bulle se groot probleem was balbesit en die wat hul gehad het is doelloos weg gemors…. tog het die bulle dit gemaak tot daar en bo die SA log geeindig. Hoop dit was ‘n slegte “flash in the pan” en nie ‘n indikasie van die kwaliteit van SA rugby se top spanne ex die bok spelers nie…..dan het die Bulle asook SA rugby groot moeilikheid.

Snowball ·

Ek het ‘n vermoede, MakersMark, ‘n baie nare een, dat ons ‘n afranseling gaan kry met die Britse Leeus. Ek hoop regtig ek is verkeerd.

piet ·

Ek dink ook ons gaan sukkel teen die Leeus. Hoop maar van die beste.

MakersMark ·

Ek het so gevoel in my water……soos die ou mense gesê het.

piet ·

Geen verrassing nie. Die kwaliteit van ons plaaslike reeks is swak en ons weet ook mos nou ons SA spanne is mos ook nie van die beste toeriste in die wereld nie. Ek het voorspel dat die Italiaanse spannetjie hulle gaan trap. Ook – as ons dink die PRO 16 (of wat ookal die nuwe naam is) gaan makliker wees as Superrugby, moet ons weer dink. Ons moet in gedagte hou dat baie van die oorsese klubs versterk word met spelers van ander lande (kwaliteit in diepte wat nodig is vir ‘n lang kompetisie), ons het nie daai luxury nie. Boonop gaan al hoe meer van ons topspelers oorsee speel en nie beskikbaar wees vir toernooie soos PRO 16 nie. Die formaat van daai kompetisie is ook so dat ons spanne elkeen 6 wedstryde oorsee moet gaan speel terwyl hulle spanne elk net 2 wedstryde in SA speel. Ons gaan sukkel in die PRO 16 met die locals. Eina. Miskien kan een of twee van die ryker unies hul spanne versterk met ‘n paar Suid-See manne.

MakersMark ·

Wat is jou voorspelling vir die B&I Leeus wat ‘n maand weg is ?

piet ·

Ek weet regtig nie wat daar gaan gebeur nie. Gaan afhang van die oorsese Bokke se spelpeil. As ons net plaaslik gebaseerde spelers gekies het (soos NZ) sou ons definitief verloor het. Too close to call, kan enige kant toe gaan. Kom ons stel dit so: as daar ‘n span is wat moontlik op ‘n drafstap kan wen, sal dit die Leeus wees.

MakersMark ·

Dink ook so en terwyl ons spelers rondneuk in laerskool kwaliteit reekse berei daai B&IL voor asof hul oorlog toe gaan. En dink ook ons manne gaan sukkel.

Snowball ·

O weë! Daar kom die Bulle huis toe met die kous oor die kop. Ek het al skoolseuns beter sien speel in die nr 10 trui.

Andre ·

Alle eer aan Benetton, hulle het gelyk soos ‘n rugbyspan. Die Bulle, ook maar gespeel soos’ n Suid Afrikaanse SBE.

Willempie ·

Ag hoe lekker was dit nou om te sien hoe die MAGTIGE ??? Blou Bulle verneder word na BLOU NULLE. En nou kom al die verskonings, die klimaatstoestande was nie reg nie, die voorberidingstydperk was te kort en… en… en o ja, twee van die gereelde spelers was nie beskikbaar nie. AG NEE, ‘n span bestaan uit vyftien en nie twee spelers nie. En dan dan is Marcel Coetzee dan nou so ‘n goeie plaasvervanger vir Duane. Arme Marcel kan nie ‘n rugbybal hanteer nie, vang mis met oop doellyn voor hom, kan nie die bal ordentlik aangee nie en verder nerens op die veld te sien nie. En dan was hy kamtig nog kaptein ook. Marcel en Flake White se spelpatroon??? le in skerwe. Sal nie eens vir Marcel plek gee in ons dorp se tweede span nie, wat nog te se van ‘n Springbokspan.

MakersMark ·

Dis great as die bulle verneder word vir elke ondersteuner van ‘n ander SA span wat deur die bulle geklop is soms 2 keer in die reeks….om dit in perspektief te sien – op Nuweland speel WP teen Vrystaat en WP mors met Vrystaat. Die WP manne in die skare sê vir die Vrystaat bench “as die spelers op die veld so vrot is, hoe vrot is julle”? Go figure.

Snowball ·

En om te dink hulle het al die locals ore aangesit! Hoe vrot is die ander dan Willempie??

piet ·

Geen kwaliteit in diepte nie, dit gaan ‘n probleem wees vir al ons plaaslike spanne in ‘n lang, top kompetisie soos die PRO 16. Nulle het reeds omtrent twee ekstra spanne aangekoop en maak dit nog nie. Kommerwekkend.

Andre ·

Ag nee ou goorgaai Willempie, hoe noem jy nou die ander spanne wat so deur die Bulle afgestof is?

Harry ·

Die SA spanne kan baie bly wees hulle moes nie teen die Australiese en New Zeeland spanne speel nie…………

Dup ·

SA Rugby het die Cheetahs uit die Pro 14/Reënboogbeker geskop omdat hulle nie “goed genoeg” is nie…..ek dink hulle sou op die dag beter as die Bulle vertoon het.

MakersMark ·

Genuine? Maar hul het nie aan die kompetisie deelgeneem nie. En glad nie die bulle geklop nie. So wat nou ?

Frans ·

.SA Rugby se beleid om ‘n kompetisie tot net die sg 4 grotes te beperk het in hul gesig ontplof.
Toe die Bulls te staan kom teen ‘n span wat anders as die ander drie grotes speel,lyk hul so onbeholpe dat ek hul regtig later begin jammer kry,
Dit help nie om weg te hardloop van plaaslike rugby se strukturele probleme nie.
As die Cheetahs uitgeskop omdat hul kwansuis te swak is-dan behoort die Bulls op die vertoning ook nie daar nie.
Daar meer spanne wees want dit bring verskeidenheid-as jy tot vervelens toe teen die selfde spanne dan stagneer jy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.