Beroemde Wallaby vas ná ‘aanranding’

George Smith is in hegtenis geneem. (Foto: Reds)

ʼn Beroemde Wallaby, wat Australië in oor die 100 toetse verteenwoordig het, is in Japan ná ʼn beweerde aanranding deur die polisie aangekeer.

Dit het pas uitgelek dat George Smith (37), wat die Wallabies van 2000 tot 2013 in 111 toetse verteenwoordig het, glo vroeg-vroeg Nuwejaarsoggend ʼn taxibestuurder in Japan met die vuis bygekom het.

Luidens berigte het ʼn beskonke Smith geweier om die taxigeld te betaal, en hom uit die voete gemaak. Toe die bestuurder hom agternasit en op sy geld aandring, het Smith hom glo geslaan.

Die vermaarde flank ontken die voorval, maar sy klub, Santory Sungoliath, het die inhegtenisneming bevestig.

Rugby Australië (RA) het ook bevestig dat hy ʼn voorval ondersoek waarby Smith in Japan betrokke was.

Hy (Smith) is sedert verlede jaar ook terug in die Superrugbytuig vir die Reds, en die nuus kan nie op ʼn slegter tydstip vir dié span kom nie, nadat nog een van hul Wallabies, Karmichael Hunt, vroeër deur die polisie met kokaïen betrap is.

Twee en twintig van Smith se toetse was teen die Springbokke, vir wie hy met sy kenmerkende rastalokke deurentyd ʼn doring in die vlees by die afbreekpunte was.

Hy het nege toetsdrieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.