Berry verkwalik Rassie vir skade aan reputasie

Die Australiese skeidsregter, Nic Berry. Foto: Andrew Samson/AFP.

Nic Berry, die Australiese skeidsregter wat die hoofrol in Rassie Erasmus se video vertolk, sê dat sy reputasie onder die striemende aanval skade gely het.

“Die openbare aanval op my integriteit en karakter is iets wat in geen werksplek geduld sal word nie,” het Berry gesê.

Volgens die 37-jarige skeidsregter, wat in sy speeldae vir die Queensland Reds en die London Wasps uitgedraf het, het sy gesin ook deurgeloop.

“Ons het net slegte herinneringe van die hele ervaring. Ek het jare lank probeer om my reputasie as internasionale skeidsregter op te bou en die aanlyn video het binne ’n oogwink onmeetbare skade aangerig.

“Ek voel my reputasie as skeidsregter en persoon is vir ewig aangetas, ongeag die uitslag van enige moontlike optrede.”

Rassie Erasmus. Foto: GB Jordaan.

Erasmus het ’n video van langer as ’n uur oor Berry se kleitrappery in die eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad gemaak. Hy het onder meer 26 skeidsregterfoute uitgewys, terwyl hy ook voorbeelde uitgelig het waar daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan Siya Kolisi, betoon is nie.

Berry meen dat die gewraakte video sy professionaliteit bevraagteken, terwyl dit ook daarop sinspeel dat hy nie regverdig is nie.

“Sy [Erasmus se] optrede druis in teen alles waarvoor rugby staan en dit is belangrik dat ek teen sulke gedrag ’n standpunt moet inneem.”

Wêreldrugby se tugkomitee was ook beïndruk met Berry toe hulle na sy weergawe van die gebeure geluister het.

“Hy het geen motief gehad om te jok, dinge te oordryf of om te mislei nie. Hy het ons met sy stille waardigheid, nederigheid en selfbeheersing tydens sy getuienis beïndruk.”

Tog stem nie almal met Berry saam nie.

Ian McIntosh meen dat Erasmus vir sy video geprys moet word; skeidsregters is immers nie verhewe bo kritiek nie.

“Kan iemand Wêreldrugby met die nodige respek inlig dat wette daargestel is om die spel te laat vloei, en nie om dit gereeld te onderbreek nie? Terselfdertyd is dit ook belangrik dat die skeidsregter weer no. 31 op die veld word en nie no. 1 nie,” het McIntosh destyds in ’n onderhoud met iol.co.za gesê.

Die oudafrigter meen dat skeidsregters daarop uit is om strafskoppe uit te wys, in plaas daarvan om die spel te laat vloei.

“Hoe anders word die 30 strafskoppe per wedstryd verduidelik? Die ou beginsel van om op die spel te konsentreer en nie die wet nie, het duidelik by die stadionvenster uitgewaai.”

Uiteindelik hou niemand daarvan as hul foute uitgewys word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Anoniem ·

Die enigste reputasie wat jy wel oor die jare opgebou het, is die van ‘n swak skeidsregter Mnr Berry. Tatta “Sheila”.

Anoniem ·

Berry gaan sukkel om sy sogenaamde onkreukelbare reputasie met 23 swak beslissings in ‘n hof te verdedig. Selfs die hoof van skeidsregters van wêreldrugby het Rassie bedank vir die goeie werk nadat hy dit bestudeer het. Dis hoogtyd dat rugby se “untouchable” skeidsregters se hok bietjie geskud word. Ons leef juis in ‘n era waar alles bevraagteken word,

anniekiewiet ·

Ek ken min van rugby, maar is daar enige foute/verdraaiing in Rassie se video wat tog uit die wedstrydvideo kom? Ek vra maar net.

piet ·

Daar was baie foute wat die skeidsregter gemaak het maar die hele storie gaan oor die openbaarmaking en verspreiding van die video materiaal in die publieke domein. Dis teen wereldrugby se regulasies en kan die spel in oneer bring. Enige probleme moet intern opgelos word deur die regte kanale en regte prosedures.

pompies ·

Piet die probleem is dat dit al hoelank bespreek word en niks gebeur nie, wat my wel bekommer is die sogenaamde “regters” wat Rassie se saak aangehoor het Australie en Nieuseeland, niemand van SA en of ander rugby lande nie. Dit is nie vir my snaaks dat hy geskors en beboet is nie, sekere lande kan net kerm en kerm en niks doen nie.

Danie ·

Nee wat ou seun. As jy nie so pateties geblaas het nie, sou daar nie soveel kritiek teen jou gewees het nie. Skeidsregters maak foute, ons weet dit, hulle is ook net mens en ons aanvaar dit so MAAR jy was pateties op n heel ander vlak gewees. Moenie nou kom vertel dat jy voel dit was nie reg nie, gaan oorweeg liewer n ander loopbaan.

Spearhead ·

Nic Berry jou reputasie sou nie in gedrang gekom het as jy integriteit gehad het nie. So moet nou nie daaroor kerm nie.
Daar is mijoene kykers daar buite wat ook die wedstryd regverdig geblaas wil sien, en jy was swak blaser.

VaalDonkie ·

Wel as jy nie so opgetree het nie, sou die video jou nie laat sleg lyk het nie

Johan ·

Hoekom maak Nic dan nie ‘n video om te bewys dat reg was nie.

James ·

Wat werklik moes gebeur het is dat mnr Berry geskors moes word en Rassie geluk gewens moet word omdat hy al die foute uitgewys het.

Johnny ·

Ek kan verstaan as hy nie respek aan Kolisi betoon nie. Almal weet waarom hy kaptein is. Maar wat Berry se reputasieskade aan betref – hy het dit verdien.
Hierdie ding dat skeidsregters nie gekritiseer mag word nie is in elk geval ‘n onding. Hulle is allesbehalwe onfeilbaar en soms blatant bevooroordeeld. Dink maar aan onse eie Egon Seconds . . .

Riaan ·

Afrigters en spelers kry die trekpas sommer baie vinnig, maar jy wil he die skeidsregters moet in watte toegedraai word. Die feit is dat julle in een wedstryd ‘n span uit ‘n kompetisie kan blaas. en daar is enorme finansieële komplikasies aan dit verbonde.

JohanR ·

My maat jy moes ‘n beter skeidregter gewees het, want in daai eerste toets teen die Leeus was jy vrot, vrot, vrot. En nou moet Rassie nog vir jou om verskoonig vra omdat jy vrot, vrot, vrot was. Almal kon jou vrotheid op die video sien. Het jy sedert probeer om te verbeter of sal jy maar net aanhou om vrot, vrot, vrot te wees?

tweeling ·

Kan van een spesifieke internasionale krieket skeidsregter onthou wat opgehou het omdat kritiek te erg geraak het, miskien moet Berry daaraan dink

Dirk Mostert ·

Rugby kan by krieket leer. Daar mag kapteins op die veld teen beslissings appelleer.

Kobus ·

Altyd ‘n arme Ausie wat benadeel word. Ek dink Wereldrugby se “base” moes maar ‘n bevel teen Rassie en SARU maak, net om te wys hulle is gekant teen die video. Die appel sal egter slaag en dan kan Berry nie verder kerm nie

Yolandie ·

Elke rugby liefhebber kyk ‘n wedstryd in die hoop dat dit ‘n regverdige kompetisie sal wees. Soms vind daar wedstryde plaas waar een teenstander werklik uitstaan bo n ander en dis reg so. Maar wanneer ‘n wedstryd op ‘n negatiewe manier oorheers word deur swak beslissings is ‘n ander storie. Mnr Berry kan heel duidelik nie kritiek hanteer nie, nou huil hy soos ‘n babatjie. Plaas hy na die wedstryd gaan kyk weer en leer daaruit. Nou klink hy net soos ‘n man wat huil omdat hy foute began het maar dit persoonlik opneem instede daarvan om te erken dat hy swak beslissings gemaak het en bevestig dat hy daaruit sal leer.

Dunsie ·

Ag siestog, gaan leer liewers die reëls en wees regverdig. You do the crime, you do the tine.

JN ·

Wel Berry as jy niks verkeerd gedoen het nie en jy weet dit en kan die teendeel bewys dat Rassie verkeerd was in sy kritiek teenoor jou skeidsregter kwaliteit dan doen so …
Die karakters sluipmoord waarvan jy praat is oor jy jouself in daardie posisie geplaas het met uiterse swak dispiline van jouself af en die video grepe praat nie leuens nie doen dit?
Jy is suur dat dit uitgwys is vir almal om te sien hoe swak jy eintlik is in jou besluite en net daar oor jou swak prestasies wat uitgewys is is waar jy jou kredietwaardigheid verloor het…
Maar die IRA sal mos nie erken hul en hul skeidsregters kan ook foute maak nie!!!
“The untouchable rugby fraternity association” that answers to no one….
Eenvoudig, blaas regverdig of staan pa vir swak prestasie werk en betaal die prys nes ander moet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.