Besering knip Sexton se Leinster-dae dalk kort

Leinster en Ierland se Johnny Sexton. (Foto: Twitter.)

Ná 189 wedstryde vir Leinster het Johnny Sexton erken dat hy moontlik reeds sy laaste kragmeting vir sy geliefde klub gespeel het.

Die 37-jarige losskakel het ʼn liesbesering in Ierland se finale Sesnasies-wedstryd teen Engeland opgedoen en hy is sedertdien op die kantlyn. En met die Wêreldbeker-toernooi om die draai, sal hy alles in die stryd werp om in Frankryk op alle suiers vir die nasionale span te vuur.

“Dit is nie lekker om Leinster-wedstryde mis te loop nie. Mense sal vir my sê dat ek steeds die Wêreldbeker het om na uit te sien en dit is inderdaad so, maar wat ek probeer oordra is dat dit vir my net soveel beteken het om vir Leinster te speel as om vir Ierland uit te draf. Of altans byna soveel,” het Sexton in ʼn onderhoud met die The Times gesê.

Die sterk Ierse klub het juis die afgelope naweek met die Leicester Tigers afgereken om vir die halfeindstryd van die Kampioenebeker te kwalifiseer.

Die immergroen nommertienspeler het juis vantevore ʼn deurslaggewende rol in die Dublin-span se Europese suksesse in 2009, 2011, 2012 en 2018 gespeel.

Sexton is dus gewoond daaraan om die silwerware omhoog te hou en hy het ongetwyfeld die Webb Ellis-trofee in sy visier; ʼn titel wat die Iere tot dusver ontwyk het.

Hy het ook die vrese afgelag dat Ierland ʼn bietjie te vroeg met sy Grand Slam-sukses in die Sesnasies-reeks die kruin van die golf bereik het en dat hulle sonder veel momentum om Wêreldbeker-glorie sal baklei.

“Dis nie ʼn vereiste om swak in die Sesnasies te vertoon om die Wêreldbeker te wen nie. Toe Engeland in 2003 die eindstryd teen die Wallabies gewen het, was hulle ook onoorwonne in die Sesnasies-reeks. Ons moet net ons voete op die grond hou en op ons sukses probeer voortbou.”

Leinster speel Saterdag teen die Lions in ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Ellispark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die klub het soveel diepte dat ek verwag dat hul te sterk vir die Leeus en Bulle gaan wees al is Sexton ook uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.