Beserings en rooi kaart kelder Goue Leeus

Ryan Kankowski – sy besering ʼn keerpunt. (Foto: GB Jordaan)

Die Goue Leeus was op Ellispark goed op pad om dit drie uit drie vir die buiteperde in Saterdag se Curriebekerstryde te maak toe beserings en ʼn rooi kaart hulle van stryk gebring het.

Die Sharks het op die ou end met 47-31 gewen, nadat die tuisspan rustyd met 24-5 voor was.

Die Leeus het voor rustyd deur tipiese Leeusrugby oorheers.

Die Sharks-stut Thomas du Toit is in die eerste minuut met ʼn besering van die veld af, en die Leeus se skrumskakel Dillon Smit in die agste minuut. Laasgenoenoemde se plaasvervanger, Marco Janse van Vuren, was egter uitstekend.

Twee keerpunte in die tweede helfte het die Leeus ontwrig, en daartoe bygedra dat die besoekers die oorhand te kry.

Die Rooibontes se kaptein Ryan Kankowski is pas ná rustyd met ʼn enkelbesering van die veld af, en toe die haker Robbie Coetzee in die 53ste minuut ʼn rooi kaart kry, was dit neusie verby vir die tuisspan.

Bobby de Wee aan die hardloop. (Foto: GB Jordaan)

Coetzee het na die bal geskop, maar skrams met die Sharks-flank Jacques Vermeulen se kop kontak gemaak toe dié sy eerste van twee drieë gedruk het.

Om sout in die wonde te vryf, is die bankstut Sti Sithole in die 60ste minuut beseer, en deur ʼn slot vervang.

Hierna het die Leeus geen antwoord gehad op die Sharks se vuriger en veel beter spel ná rustyd nie, veral nie in die skrums nie.

Die Leeus se laaste punte het in die 50ste minuut gekom, en die Sharks het die eerste keer die voortou in die 66ste minuut geneem – om dit nie weer af te staan nie.

Die puntemakers –

Goue Leeus 31 (24) – Drieë: Rohan Janse van Rensburg, Jacques Nel, Anthony Volmink, Marco Janse van Vuren, Fabian Booysen. Doelskoppe: Jaco van der Walt (3).

Sharks 47 (5) – Drieë: Tera Mtembu, Jacques Vermeulen (2), strafdrie, Louis Schreuder, John-Hubert Meyer, Keegan Daniel. Doelskoppe: Garth April (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dawie ·

Stem saam met jou Teresa. Verder- “Skrams teen die kop getref” sou nie ń rooi kaart tot gevolg gehad het nie. Spelers ken die rëels. Hulle moet leer dat sulke tipe spel, hetsy per ongeluk of blatant vuil gevolge gaan hê. Dit Robbie se tweede rooi kaart vanjaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.