Beserings kan Cheetahs teen Sánchez-lose Jaguares kos

Raymoin Rhule - een van die Cheetahs se beseerdes (Foto: fscheetahs.co.za)

Raymoin Rhule – een van die Cheetahs se beseerdes (Foto: fscheetahs.co.za)

‘n Cheetahs-groep van 25 spelers het Dinsdag sonder ‘n hele aantal beseerde spelers na Buenos Aires vertrek waar hulle Saterdagaand (21:40 SA tyd) teen die Jaguares te staan kom.

Die Bloemfonteiners sal katvoet wees vir die Argentyne wat die afgelope naweek redelik maklik met die Lions afgereken het en die Stormers op Nuweland ook laat uithaal het.

Verskeie staatmakers soos die gereelde senter en kaptein Francois Venter, die vleuels Sergeal Petersen en Raymond Rhule, Uzair Cassiem en die voorryman Ox Nché bevind hulle boonop nog op die krukkelys. Neil Hugo is natuurlik vir die hele kompetisie uit.

Maar die Vrystaters beskik steeds oor ‘n talentvolle groep wat beslis in staat is om die wedstryd te wen – selfs al was daar tye die afgelope naweek teen die Sunwolves wat dit nie gelyk het of die tuisspan sal wen nie. Maar hulle het.

Dit sal interessant wees om te sien wie Franco Smith, afrigter van die Cheetahs, saam met Clinton Swart in die middelveld inspan. Die afgelope naweek was Swart in tandem met Ryno Benjamin.

Met William Small-Smith en Michael van der Spuy albei in die toergroep, sal dit niemand verbaas as een van hulle saam met Swart die middelveld beman nie. Niel Marais, eintlik ‘n losskakel, is ’n ander opsie op senter.

Die keuse van Small-Smith of Van der Spuy, sal natuurlik die weg baan vir Benjamin om op vleuel diens te doen.

♦  Die Jaguares se losskakel, Nicolás Sánchez, is Dinsdag vir ‘n week geskors ná ‘n gevaarlike duikslag die afgelope naweek, wat beteken dat hy nie teen die Cheetahs sal uitdraf nie.

Lions-ondersteuners het gemor oor die duikslag waarmee Sánchez die vleuel Anthony Volmink platgetrek het. Die skeidsregter het slegs ‘n strafskop aan die Lions toegeken, maar Sanzaar, die beheerliggaam van die Superrugby-reeks, se wedstrydkommissaris het hom agterna vir ongeoorloofde spel uitgewys, waarna hulle in ‘n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is.

Cheetahs se groep  (alfabeties) –

1. Rayno Benjamin, 2. Clayton Blommetjies, 3. Tom Botha, 4. Johan Coetzee, 5. Joseph Dweba, 6. Elandré Hugget, 7. Niell Jordaan, 8. Armandt Koster, 9. Charles Marais, 10. Niel Marais, 11. Tian Meyer, 12. Danie Mienie, 13. Oupa Mohoje, 14. Boom Prinsloo, 15. Paul Schoeman, 16. William Small-Smith, 17. Clinton Swart, 18. Francois Uys, 19. Michael van der Spuy, 20. Torsten van Jaarsveld, 21. Ruan van Rensburg, 22. Henco Venter, 23. Shaun Venter, 24. Carl Wegner, 25. Fred Zeilinga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.