Beserings teister Lions én Stormers voor die groot kragmeting

Daar is by die Stormers én die Lions kommer dat van hul staatmakers nie Saterdag op Nuweland sal kan speel in die wedstryd tussen wat onteenseglik die twee voorste Suid-Afrikaanse spanne is nie.

Die Lions het ’n terugslag op die vooraand van die kragmeting beleef met die nuus dat die heelagter Andries Coetzee moontlik nie vir die kragmeting beskikbaar sal wees nie.

Coetzee, wat met ’n dyspierbesering sukkel, sal later die week ’n fiksheidstoets ondergaan. Sy logiese plaasvervanger, die veelsydige Jaco van der Walt, het las van ’n voetbesering wat hom vier weke langs die kantlyn gaan hou.

Johan Ackermann, breier van die Lions, sal waarskynlik besluit om nog ’n veelsydige speler, Sylvian Mahuza, wat sy naam in die Varsitybekerreeks gemaak het, in die laaste vesting te kies.

Ander nuus uit die Lionskamp, hoewel nie van toepassing op Saterdag se stryd nie,  is dat die Springbokvleuel Ruan Combrinck, wat ook tuis op heelagter is, nie voor 22 April ’n terugkeer tot die veld sal maak nie. Sy skouerbesering lol nog.

Die jong loskop, Dylan Smith, wat verlede jaar in sy eerste volwaardige Superseisoen groot indruk gemaak het, het ’n skouerbesering wat hom ses maande langs die kantlyn gaan hou. Hy is in Oktober verlede jaar beseer en is in sy tweede wedstryd vanjaar weer beseer.

♦  Die Stormers is stert in die lug nadat hulle die hoogaangeskrewe Chiefs die afgelope naweek ore aangesit het en steeds onoorwonne vanjaar is.

Die Johannesburgers daarenteen het nog net vanjaar teen die Jaguares slae gekry en sal teen die Kapenaars wil wys dat die skielike optimisme in die Moederstad oor die Superrugby-titel vergesog is.

In die Kaap word juis ook naels gekou oor Saterdag se kragmeting. Twyfel bestaan oor die fiksheid van die belowende jong flank Cobus Wiese en met die beserings van Rynhardt Elstadt, Stephan de Witt en Marnus Schoeman is die flankspens skielik leeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.