Beserings tref Springbokke swaarder as AB’s, Wallabies

Trevor Nyakane (Foto: smh.co.au)

Trevor Nyakane (Foto: smh.co.au)

Die beseringspook het die Springbokke vanjaar al swaar getref, veral in sekere sleutelposisies.

Twaalf Springbokke is tans op die krukkelys en dus nie vir hul Bokpligte beskikbaar nie. Dit is baie meer as die All Blacks en Wallabies se verliese voordat hulle na Suid-Afrika reis vir die oorblywende Rugbykampioenskaptoetse.

Gelukkig is daar redelike diepte en ervaring in sekere posisies by die Springbokke, terwyl dit ook geleentheid bied vir jonger spelers om hul hande op te steek.

Ondanks Marcell Coetzee se hoë werkywer en doeltreffendheid, is Willem Alberts se afwesigheid in die nr. 7-trui steeds ’n groot leemte. Hy is een van die mees bedrewe baldraers in wêreldrugby en die vervanging van sy vermoë om die bal met sy krag oor die voordeellyn te kry is stellig vir Heyneke Meyer ’n kopseer.

Suid-Afrika se kanse om die Rugbykampioenskap te wen, hang aan `n dun en onwaarskynlike draadjie, maar dit is steeds belangrik vir momentum en selfvertroue om die twee tuiswedstryde teen die All Blacks en Wallabies te wen.

Daarom kan dit Meyer dalk loon om Teboho “Oupa” Mohoje beperkte tyd op die veld te gee. Hy is ’n sterk verdediger en is ’n natuurlike baldraer soos Alberts.

Schalk Burger het hom juis tydens die Junie-toetse onder sy vlerk geneem en Burger vervang nou ’n ander sleutellosvoorspeler Francois Louw, wat teen die All Blacks seergekry het. Meyer kan hierdie twee spelers afwissel in die nr. 6-trui of selfs vir Mohoje in Coetzee se plek as ’n impakspeler opstuur.

Dan moet daar nie van Warren Whiteley vergeet word nie. Hy bring spoed en ’n meer beweeglikheid na die lostrio en dit kan Saterdag ’n goeie balans teen die minder fisieke Australië skep.

Die ander beserings onder Springboklosvoorspelers is Pierre Spies, Siya Kolisi en Arno Botha.

Meyer se ander beseringspenarie is op skrumskakel. Fourie du Preez is vir die res van die jaar uit. Ruan Pienaar sal ook vir vier tot ses weke buite aksie wees.

Francois Hougaard is die waarskynlike troonopvolger, hoewel hy lanklaas ernstige Springbokrugby gespeel het. Ander kandidate sluit in Sarel Pretorius en Cobus Reinach. Albei is goeie spelbrekers wat drieë kan druk, maar daar is voorbehoude oor hul skopvermoëns – ’n kritieke element van enige Bokskrumskakel se pligte.

Daar is ook die ewige kopseer op vaskopstut. Frans Malherbe en Coenie Oosthuizen is albei beseer. Dit los weer net vir Jannie du Plessis, met Trevor Nyakane as ’n onervare vuller op nr. 3 in die Rugbykampioenskap. Malherbe, die enigste ware opvolger vir Du Plessis in terme van skrumvaardighede, sal hopelik terug wees vir die November-wedstryde.

Gelukkig het Eben Etzebeth betyds vir die Rugbykampioenskap herstel aangesien Flip van der Merwe en Pieter-Steph du Toit nog vir ’n wyle beseer sal wees. Jan Serfontein staan ook die beseerde Jaque Fourie se aansienlike stewels op buitesenter vol, maar hopelik is die Bokveteraan weer slaggereed in November, wanneer die Bokke Engeland Ierland, Italië en Wallis moet aandurf.

Wat die All Blacks betref, is slegs Ma’a Nonu, Dan Carter en Sam Whitelock sover beseer. Die opkomende ster Malakai Fekitoa sal Nonu se plek op binnesenter teen die Pumas vul. Aaron Cruden en Beauden Barrett speel so goed in die nr.10-trui dat Carter, wat buitendien in die skemer van sy All Black-loopbaan is, tans skaars gemis word. Colin Slade is ook ’n opsie en skop beter na die pale as Cruden en Barrett. Die Hurricane-slot Jeremy Thrush al waarskynlik steeds vir Whitelock instaan totdat hy herstel het.

Die Wallabies, nie bekend vir hul goeie vaste fasette en fisieke aanslag nie, het boonop groot probleme op haker. Die ervare Stephen Moore is sedert Junie buite aksie en Nathan Charles en Tatafu Polota-Nau is ook beseer. Die Reds se Saia Fainga’a en James Hanson asook die Brumbie-haker Josh Mann-Rea is as moontlike opsies gekies.

Die ervare Will Genia en James Horwill keer ook terug nadat beserings (in die geval van Genia) en verlore vorm hulle uit die Wallabies se toetsspan gehou het, terwyl Adam Ashley-Cooper ook weer teen die Bokke sal kan speel ná ’n kort besering.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.