Beseringspook sak weer op Pat Lambie toe

Pat Lambie se seisoen weer onderbreek (Foto: stuff.co.nz)

Pat Lambie se seisoen weer onderbreek (Foto: stuff.co.nz)

Die beseringspook het sy soveelste besoek aan Pat Lambie gebring en die Sharks se losskakel en kaptein sal wéér sy kapteinskap tydelik aan ʼn spanmaat moet afstaan.

Die besering wat hy verlede week teen die Waratahs opgedoen het, beteken dat Lambie sedert 2011, met die uitsondering van 2013, nie sonder beserings deur ʼn seisoen is nie. Dit was ‘ongelukkige’ beserings, as daar so iets kan wees, want nie een van die uiteenlopende beserings kan aan broosheid toegeskryf word nie.

Die Sharks se kaptein en losskakel wat verlede jaar twee keer as heelagter en drie keer op losskakel vir die Springbokke gespeel het na ʼn kopbesering wat hom meer as drie maande van die veld gehou het, sal nou weer tussen ses en agt weke nie kan speel nie, is die voorlopige bevinding. Lambie het moontlik ʼn onderste werwel in sy rug gekraak.

Die besering is net nóg ʼn ongeluk in ʼn loopbaan wat kort-kort onderbreek is:

♦ In 2011 het  ʼn gebreekte vinger hom van die veld gehou

♦  In 2012 het Lambie harsingskudding opgedoen en na sy herstel sy hand gesny

♦  In 2013 het hy ʼn beseringsvrye seisoen gehad en in 15 van die Sharks se 16 Superwedstryde gespeel

♦ In 2014 kon hy weens ʼn geskeurde bisep ses maande nie speel nie

♦  In 2015 het Lambie in April ʼn nekbesering opgedoen en nie weer die seisoen Superrugby gespeel nie. Hy was kwalik terug op die veld toe hy in ʼn fratsongeluk tydens ʼn Bokoefening met n elmboog teen die kop getref is en die sny het hom weer in die hospitaal laat beland.

Hy het nietemin in die Wêreldbekertoernooi gespeel.

♦  Lambie is verlede jaar op die Sharks se toer na Frankryk om opwarmwedstryde te speel in die eerste wedstryd teen Toulon met ʼn skouerbesering van die veld. Hy kon eers weer in Mei speel en is toe na twee Superwedstryde deur Allister Coetzee na die toetsspan opgeroep.

In die eerste toets teen Ierland (op 11 Junie) het Lambie ernstige harsingskudding opgedoen nadat hy op ongeoorloofde wyse deur CJ Stander geloop is.

Lambie is vir 13 weke lank nie toegelaat om te speel nie en het op 17 September eers weer vir die Sharks uitgedraf. Hy is toe weer na die Bokspan opgetrek.

♦  Vir die KwaZulu-Natallers is Lambie se jongste besering ʼn groot slag en die tweede keer in twee seisoene wat hulle die oorgrote meerderheid van hulle Superwedstryde sonder hul spelskepper en vanjaar ook ʼn skerpskutter pale toe moet klaarkom.

Hy het vanjaar weer met sy vaardighede en visie indruk gemaak in sy twee voltooide Superwedstryde maar is verlede Saterdag na vyf minute van die veld met wat aanvanklik na ʼn voorsorgmaatreël gelyk het.

Nou lyk dit veel ernstiger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.