Besnoeiings kan SA rugbytoneel dramaties wysig

spaarvarkie_geld.jpg

Argieffoto.

Voortgesette gedwonge besnoeiings kan die Suid-Afrikaanse rugbytoneel vanjaar dramaties wysig al is dit selfs op hierdie laat stadium nog te vroeg om die werklike implikasies te bepaal.

Saam-saam met die verlies van Steinhoff International as ʼn rugbyborg (Blitsbokke en die Varsitybeker), kom die nuus dat die Pumas nie langer CJ van der Linde as voorspelerafrigter kan bekostig nie.

Dis as sulks nie so ʼn groot slag vir die Pumas nie omdat die bond se nuwe rugbydirekteur, Jimmy Stonehouse, gewis die kundigheid het om te verseker dat die agttal nie gering geskat sal kan word nie.

Wat kommer baar, is die vraag hoe ʼn geldtekort die opbou van die Pumas as nuwe franchise gaan raak in ʼn oorsese reeks waar van hom verwag sal word om waarde toe te voeg.

Die Kings se swak vertoning in die Pro14-reeks sal heel waarskynlik die verdere opname van SA spanne met groter omsigtigheid laat geskied.

Mededingendheid tussen die deelnemers is tog die sluitsteen waarop die winsgewendheid van ʼn reeks geskoei is.

Daar is talle ander aanduidings hoe die geldskaarste knyp en Suid-Afrikaanse spanne daarby aanpas.

Dis waarskynlik ook ʼn teken van die tye dat wat die Suid-Afrikaanse Superrugbyfranchise’e betref daar vanjaar geen werklike groot name gewerf is nie.

Dis duidelik dat wedstrydwenners nie maklik gekoop (lees bekostig) kan word nie, en vordering slegs teweeg gebring kan word deur die bestaande personeel beter te slyp en met groter innovering aan te wend.

Die afrigters met die skeppendste denke sal hier die deurslag gee, en kan toenemend Suid-Afrikaanse rugby se beste bate word.

Die Kings en die Oostelike Provinsie word nog deur Saru onderhou; die SA Loterykommissie se jaarverslag vir 2016-2017 dui aan dat die Grens-rugbyunie R762 000 van dié kommissie ontvang het; en Boland het einde verlede jaar te kenne gegee dat hy vanjaar in ʼn groter mate klubspelers sal gebruik.

Intussen word asem oor die Westelike Provinsie se geldsake opgehou, en lê daar stories rond – wat die bond heftig ontken – dat die WPRU Nuweland wil versmous om sy geldsake te red.

Dit klink of die Curriebeker net ʼn enkelronde sal behels; die amateurtoernooie het verlede jaar al in die stof gebyt; en gerugte wil dit hê dat die klubreeks om die Goue Beker ook in die gedrang is.

Dis g’n wonder nie Saru gryp na strooihalms soos die afgelope toets teen Wallis buite die November-toetsgleuf en die moontlike toets teen die Drake in Amerika om sy beurs te styf.

Of dit die probleem kan oplos, sal net die tyd leer.

Feit is dat die volhoubaarheid van rugby as ʼn beroepspel in Suid-Afrika onder druk is, en die tekens nie baie rooskleurig lyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.