All Black-speler van 1976-toer na SA sterf

ʼn Lid van die 1976 All Black-toerspan na Suid-Afrika, wat vir ʼn besonderse prestasie onthou word, is Donderdag in Christchurch, Nieu-Seeland dood.

Gary Seear (65), ʼn slot en agsteman wat onthou word vir ʼn stelskop wat hy meer as 40 jaar gelede in ʼn toets teen Frankryk deur die pale gejaag het, het die stryd teen kanker verloor.

Sy oomblik van glorie was in 1977 in die tweede toets in Parys toe hy uit radeloosheid pale toe gemik het toe die erkende steskoppers die een na die ander skop verbrou het. Die All Blacks het met 15-3 gewen, nadat die Hane die eerste toets in Toulouse met 18-13 gewen het.

Dit is na wat vasgestel kan word die laaste keer dat ʼn All Black-voorspeler met ʼn stelskop pale toe kon slaag.

Seear was ʼn lid van die All Black-span wat in 1976 deur Suid-Afrika getoer het. Hoewel hy nie in die toetse gespeel het nie, was hy in 11 van die 20 ander toerwedstryde in aksie (tien as slot en een as agsteman) en het hy vier drieë gedruk.

Twee jaar later het hy in al vier toetse gespeel toe die All Blacks die eerste keer op toer in Brittanje al vier tuisunies kon klop.

Hy het van 1977 tot 1979 in 12 toetste gespeel – almal as agsteman.

Seear het Otago op 19 die eerste keer as slot verteenwoordig en in 116 wedstryde vir dié bond uitgedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Is daar enige voorspeler wat nog in groot rugby pale toe skop? Ek is seker daar moet wees wat kan as hul net die geleentheid kry. Soos Zinzan Brook met sy skepskop in die wereldbeker halfeindstryd in 1995. (En natuurlik Frik du Preez en Okey Geffin,)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.