Beter Kings het nog baie werk wat wag

jaguiares-logoDie Kings het soos ʼn mens verwag het Saterdag hulle eerste wedstryd teen die Jaguares in Port Elizabeth verloor, maar het plek-plek belofte getoon van ʼn beter seisoen as verlede jaar.

Die Jaguares het 39-26 gewen. Hulle was wel nie op volle sterkte nie, maar het die verdediging-swakhede en die omkeerbesit by die afbreekfoute deur die Kings gereeld uitgebuit en onder meer twee langafstand-drieë gaan druk van hanteerfoute af.

Die Kings het ʼn bereidwilligheid getoon om met die bal te hardloop, en agterlangs gaan hulle nog ʼn paar drieë vanjaar druk. Daar sal egter heelwat aan hulle samespel gewerk moet word, en dit geld vir aanval en verdediging.

Te dikwels het ʼn speler mooi reguit ingesny, net om voor die uitgeër te wees wanneer die kans daar was om te gaan druk.

Die verdediging was ook sonder kombinasie en kommunikasie met sommige spelers wat te vinnig opskiet en ander wat weer terughang.

Rustyd was die telling 19-12 in die guns van die Jaguares. Die voorsprong het met twee strafdoele na 25-12 gerek. Toe het twee langafstand-drieë van hulle eie gebied deur die besoekers gevolg, en op 29-12 het dit na nóg ʼn groot pak vir die Kings gelyk.

Die drie drieë wat ʼn span meer as die teenstanders vir ʼn drieë-bonuspunt moet druk, het egter verdwyn toe eers Makazole Mapimpi, en toe  Luzuko Vulindlu reg teen die einde van ʼn lynstaan af, gedruk het en Lionel Cronje verdoel het.

Puntemakers –

Kings (12) 26: Drieë: Makazole Mapimpi, Luzuko Vulindlu. Doelskoppe: Lionel Cronje 2. Strafdoele: Cronje 4.
Jaguares (19) 39: Drieë: Gonzalo Bertranou, Gonzalo Bertranou, Leonardo Senatore. Doelskoppe: Joaquin Diaz Bonilla, Santiago Gonzalez Iglesias 2. Strafdoele: Joaquin Diaz Bonilla 3, Santiago Gonzalez Iglesias 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.