Bevorderde Harties vier 60ste jaar met toernooi

hartbeespoort-320x384Saam met sy bevordering tot die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-B-liga vier Hartbeespoort vanjaar sy sestigste bestaansjaar met `n toernooi wat oor twee dae strek.

Chris du Toit, die adjunk-voorsitter van die klub, het aan Pale Toe! gesê die deelname aan die B-liga is `n eerste vir die klub en volg op sy suksesvolle seisoen verlede jaar.

Hy sê die klub bied 11 en 18 Maart `n feestoernooi aan waarby agt klubs van verskillende bonde betrokke sal wees. Dit vind op die Hoërskool Hartbeespoort se velde plaas.

“Vir dié geleentheid het ons reeds `n borg bekom wat R50 000 se sportklere as pryse aanbied. Ons wil dit `n jaarlikse byeenkoms maak om rugby in ons gemeenskap, maar ook in die algemeen te bevorder.”

Hy nooi enige ander maatskappy wat belangstel om betrokke te raak, om met hom by 078 526 7931 te skakel.

Du Toit sê Harties sal vanjaar met drie spanne in die B-liga meeding.

Enige speler wat by die klub wil aansluit, is welkom om hom by bogenoemde nommer te bel, of per e-pos by [email protected] met hom te skakel.

Oefentye is 18:30 Maandae, Dinsdae en Donderdae op die skoolvelde.

Hy sê Hartbeespoort se mikpunt is om voort te bou op die sukses van 2016, en rugby in die breë te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.