Bismarck moet (aanhou) ligloop

Bismarck du Plessis verlaat die veld met 'n rooikaart. Foto: Andrew Cornaga Photosport

Bismarck du Plessis verlaat die veld met ‘n rooikaart. Foto: Andrew Cornaga Photosport

Die Springbokhaker Bismarck du Plessis sal die volgende paar maande moet lig loop, want hy is `n gemerkte man.

Niemand betwis sy vermoëns nie, want hy  is straks die beste haker in wêreldrugby. Vra maar vir  enige All Black, Wallaby of Engelsman teen wie hulle nie wil speel nie, en daar is net een antwoord: Bismarck du Plessis. Sy naam verklap reeds alles.

Almal het Saterdag op Loftus Versfeld (en weer op televisie wêreldwyd) gesien hoe maklik hy uitgelok kan word, hoe kort sy lont is.

Victor Matfield het die resep gegee, deur onder sy vel in te kruip, die hele tyd met hom te praat en te frustreer, aan sy trui te trek  en hom toe ook onwettig by `n losskrum uit die pad te loop.

Du Plessis het ontplof en Matfield op die grond gekarnuffel. Hoe die beamptes en uitwysbeampte dit kon miskyk, weet ek nie. En toe Du Plessis `n rukkie later Matfield uitskel, kon almal kon sy lippe lees en weet dat hy beslis nie ‘’vervlaks, deksels of mapstieks” gesê het nie.

Dit het my laat teruggedink hoe maklik `n span in die Wêreldbeker sy rieme oor gebrekkige dissipline kan styfloop.

3 Junie 1995: Suid-Afrika teen Kanada in die Boet Erasmus-stadion.  Oftewel Die Slag van Boet Erasmus, soos die wedstryd in die annale bekend staan.

Gaan kyk maar weer na die videogrepe van dié wedstryd:  dis beslis nie vir kinders bedoel nie.

Die Bokke se haker James Dalton is afgejaag, saam met die Kanadese kaptein, Gareth Rees, en die skoorsoek-stut Rod Snow.

Ná die wedstryd is die Bok-vleuel Pieter Hendriks (wat sy hand gebreek het) en die Kanadese  heelagter Scott Stewart uitgewys. Dalton en Hendriks is lank geskors (60 en 90 dae) en het die res van die toernooi misgeloop.

Dit het die deur vir twee ander hakers, Chris Rossouw en Naka Drotské, oopgelaat om die goue medalje om hulle nekke te hang, terwyl Chester Williams in Hendriks se plek glorie gesmaak het.

Maar dit kon so maklik anders uitgedraai het. As die wedstryd in die halfeindronde tussen die Bokke en Franse op Kingspark en Durban weens onspeelbare toestande afgelas was (dit was bitter, bitter naby daaraan) sou die Franse deurgedring het om die All Blacks in die eindstryd te pak oor hulle beter dissiplinêre rekord.

Rugby is nie `n spel vir sissies nie, maar daar is `n fyn lyn tussen aggressie en beheersde aggressie.

Du Plessis was voorheen ook in die sop (dink maar terug aan sy twee geel kaarte teen die All Blacks wat tot die Bokke se ondergang in die Rugbykampioenskappe gelei het). Die een geel kaart (toe hy Dan Carter met `n wettige plettervat onderstebo geloop het) was nie regverdig nie, maar dit het bygedra tot `n tweede gele (en `n outomatiese rooikaart) toe hy `n teenstander met sy elmboog teen die keel getref het. (Die rooie is toe later teruggetrek nadat daar na die wedstryd bevind is die eerste geelkaart was nie geregverdig nie).

Sy teenstanders weet van sy kort humeur, die afrigters weet dit; en die skeidsregters en assistente sal hom met arendsoë dophou.

Die Bokke het in twee WB-toernooie die geluksgodin aan hulle kant  gehad. Niemand sal ooit hulle oorwinnings betwis nie, maar moenie met vuur speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Onthou julle vir Sean Fitzpatrick. Dit was sy spesialiteit om moeilikheid te maak. En dan gewoonlik is die ander span gestraf as hulle terug slaan en het die All Balcks die strafskop gekry. Ek kan nie glo Johan le Roux sou iemand se oor gebyt het wat heel onskuldig daar gelê het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.