Bismarck: ‘Ons moes die Leeus 3 – 0 gewen het’

Foto: Verskaf.

Op die rugbyveld het Bismarck du Plessis nog nooit vir enige konfrontasie terug gestaan nie. Maar in die jongste episode van Die Losgemaal vertel die haker dat klappe, harde musiek en ’n geskreeuery onnodig is om die Springbokke vóór ’n toetswedstryd begeester te kry.

“In ’n Springbok-kleedkamer is dinge doodstil. Ons hoef nie opgecharge te word nie; daardie gevoel is binne jou. Ek dink as iemand byvoorbeeld vir Eben Etzebeth teen die kop klap, gaan hy jou terugklap!” het Du Plessis geskerts.

Die momentum is ongetwyfeld aan die Bokke se kant nadat hulle die vorige toets teen die Britse en Ierse Leeus met 27 – 9 gewen het. Die Suid-Afrikaners se voorspelers het veral in die tweede helfte hul stem dik gemaak en die besoekers het ’n paar benoude spronge gegee.

Du Plessis is beïndruk met die Springbokke se rolmaalbewegings en hy glo dat dit ’n deurslaggewende rol in die oorwinning gespeel het.

En hoewel dinge dalk vandeesweek effens rustiger is ná Rassie Erasmus se video van verlede Donderdag, meen Du Plessis dat die Bokke oorgehaal is om die Leeus te klop

“Ons moes hulle eintlik met 3 – 0 gewen het en hulle stert tussen die bene huis toe gestuur het sodat hulle vir die volgende 12 jaar oor die loesing kon praat,” het hy in die 17de minuut van die onderhoud gesê.

Moenie hierdie episode van Die Losgemaal misloop nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.