Bitter Leeu-teleurstelling vir drie uit SA

WP Nel (Foto: Scottish Rugby)

Saam met die vreugde van CJ Stander se insluiting in die toerspan van die Britse en Ierse Leeus na Nieu-Seeland is daar die bitter teleurstelling van twee ander Suid-Afrikaners en ʼn Skotse Stormer wat met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Al drie het Skotland in toetsrugby verteenwoordig, en was dit nie vir ongeleë beserings nie, kon Skotland vyf pleks van twee verteenwoordigers in die toerspan gehad het.

Die gewese Cheetahs-stut WP Nel is as ʼn gewisse keuse vir die span beskou totdat ʼn nekbesering hom verplig het om aan die Skotse span vir vanjaar se Sesnasiesreeks te onttrek. Hy het pas herstel gehad nadat hy ook die Novembertoetse weens ʼn besering misgeloop het.

Huw Jones, ʼn senter van die Stormers wat in Skotland gebore is en grootgeword het, was ʼn sterk gunsteling om die span te haal tot hy vroeër vanjaar ʼn dyspier in Skotland se Sesnasieswedstryd teen Italië geskeur het en ʼn geskatte vyf maande buite aksie sal wees. Hy het  in 2013 Kaapstad toe gekom, vir Valsbaai, en toe vir die Ikeys in die Varsitybekerreeks gespeel waarna hy vir die Stormers gekies is en 23 wedstryde vir hulle gespeel het.

Hy is toe deur Skotland nadergetrek waar hy groot indruk gemaak het.

Dit is sedertdien bekend gemaak dat Jones aanstaande seisoen sy loopbaan by Glasgow Warriors sal voortsit.

Die derde Suid-Afrikaanse “Skot” wat as ʼn aanspraakmaker op insluiting in die span Nieu-Seeland toe was, is die gewese Lions- en Goue Leeuskaptein Josh Strauss.

Sy hoop het aan skerwe gespat toe hy ʼn nier beseer het in die Sesnasieswedstryd teen Frankryk, iets wat hom vir die res van die reeks op die krukkelys geplaas het.

Die Leeu-afrigter Warren Gatland is onlangs nog in die media aangehaal dat hy Nel en Strauss sal oorweeg as hulle betyds fiks is.

Laaste kans

Al waarop hulle nou kan hoop, is om te sorg dat hulle topfiks raak ingeval die Leeus ʼn plaasvervanger of wat in Nieu-Seeland nodig kry.

Nel word oor ʼn paar dae 31 en Strauss is ook daarheen op pad. Dis onwaarskynlik dat hulle nog aanspraak sal maak wanneer die volgende Leeuspan in 2021 vir die geskeduleerde toer na Suid-Afrika gekies word.

Die 23-jarige Jones kan dalk weer ʼn kans kry.

Dit geld ook die gewese SA o.20-stut Allan Dell (25) wat vanjaar ʼn buitekans gegun is, maar nie hard genoeg aan die deur geklop het nie.

Ook hy speel vir Skotland, en kan in die komende vier jaar tot rypheid kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.