Bitter min van Cheetahs se opdrafspan bly oor

Bitter min van die Cheetahs se beginspan wat die Blou Bulle naelskraap in hul jongste Curriebekerwedstryd geklop het, sal Saterdag in Bloemfontein teen die Goue Leeus opdraf.

Gesien die agt veranderings die vorige week, lyk dit of die Vrystaters “proewe” hou met die oog op hul Pro14-groep wat eersdaags aangewys sal moet word.

Slegs twee lede van die agttal wat teen die Bulle gewen het, is behou – die flank Gerhard Olivier, wat die nommer 6-trui vir nommer 7 in Oupa Mohoje se plek verruil; en die haker Jacques du Toit.

Charles Marais en Aranos Coetzee is die stutte in Ox Nche (hy skuif bank toe) en Tom Botha se plek.

Justin Basson en Reniel Hugo vervang Armandt Koster en Rynier Bernardo as slotpaar, met Bernardo wat die bank haal.

Niell Jordaan is terug op agsteman, en neem weer die kapteinskap oor; met Paul Schoeman wat die vakature vul wat Olivier laat.

Tian Meyer is terug op skrumskakel, en Zee Mkhabela hou die bank warm.

In die middelveld maak Robbie Petzer (losskakel) en Ali Mgijima (binnesenter) hul Curriebekerbuiging in Ryno Eksteen (beseer) en Francois Venter se plek. William Small-Smith skuif in die proses buitesenter toe.

Sergeal Petersen vervang Clayton Blommetjies op heelagter en Rosko Specman draf as regtervleuel op.

Die Namibiese toetshaker Torsten van Jaarsveld is ná ʼn lang ruk op die krukkelys terug in die 22-tal, en is saam met die Blitsbok Cecil Afrika en Ryno Benjamin nuut op die bank.

Die span –

15. Sergeal Petersen, 14. Rosko Specman, 13. William Small-Smith, 12. Ali Mgijima, 11. Makazole Mapimpi, 10. Robbie Petzer, 9. Tian Meyer, 8. Niell Jordaan (kaptein), 7. Gerhard Olivier, 6. Paul Schoeman, 5. Reniel Hugo, 4. Justin Basson, 3. Aranos Coetzee, 2. Jacques du Toit, 1. Charles Marais. Bank: 16. Ox Nche, 17. Torsten van Jaarsveld, 18. Rynier Bernardo, 19. Jasper Wiese, 20. Zee Mkhabela, 21. Ryno Benjamin, 22. Cecil Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.