All Blacks gaan geen kanse waag teen die Poemas nie

imagesCA0EIFCW

Soos ons nou al Nieu-Seelandse rugby leer ken het, gaan daar nie enige kanse gewaag word in Saterdag se toets teen Argentinië nie.

Dit is daarom dat Steve Hansen vir Dan Carter op losskakel sal kies indien hy sy kuitbesering betyds kan afskud. Beauden Barrett het ’n soortgelyke besering, maar sal heel moontlik beskikbaar wees, terwyl Aaron Cruden steeds nie kan speel nie weens ’n kniebesering. Die losskakelposisie blyk dus ’n knaende kopseer vir Hansen te wees aangesien Tom Taylor ook in die laaste toets teen die Wallabies seergekry het.

Die All Blacks se veteraansenter Ma’a Nonu het steeds las van ’n enkelbesering en dit laat die deur oop vir die opwindende Blues-spoedvraat Francis Saili om sy toetsdebuut te maak.

Daar is weer goeie nuus vir Argentinië voor hierdie toets. Sy kaptein, Juan Martin Fernandez Lobbe, keer terug na die span en sal die 54ste keer vir die Poemas uitdraf. Manuel Carizza is terug op slot nadat hy in die eerste toets in Soweto teen die Bokke seergekry het. Carizza se insluiting sal ’n yslike lynstaanvoordeel vir die Argentyne wees. Die lynstane is een aspek van die All Blacks se spel wat tans nie heeltemal op peil is nie en hulle het heelwat van hul eie ingooiballe aan die Wallabies afgestaan.

Daarbenewens sal die ervare Juan Martin Hernandez weer op heelagter uitdraf, terwyl Nicolás Sánchez op losskakel sal diens doen.

Die Bokke staar ’n baie moeilike toets in Brisbane in die gesig, maar die Poemas staan voor ’n haas onbegonne taak in Hamilton. Die geskiedenis glimlag ook nie gunstig op die Suid-Amerikaners nie. Die laaste keer toe hierdie twee spanne mekaar in Hamilton gepak het – 26 Junie 2004 – het die All Blacks die Poemas behoorlik met 41-7 getroef. Die Argentyne het weliswaar die All Blacks groot laat skrik in hul 5-21 nederlaag in Wellington laas jaar. Die manne in swart was drie weke later in La Plata egter weer op hul verwoestende beste toe hulle gemaklik met 54-15 geseëvier en Corey Jane ’n driekuns behaal het.

Voor die jaarlikse Rugbykampioenskap sy aanvang geneem het, het die All Blacks in 2011 ook 33-10 teen die Poemas in Auckland gewen en naelskraaps met 25-19 in Buenos Aires in Junie 2006. Maar nes die Bokke
gesukkel het in beide wegtoetse teen die Poemas sedert die begin van die Rugbykampioenskap, kan die All Blacks ook oorgerus raak in die eerste toets teen die Poemas en sukkel soos laas jaar in Wellington.

Die wedstryd skop om 09:35 op Supersport1 af.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.